Nuus 15:00
BULLETIN 8 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE eis die bekendmaking van ‘n geheime intelligensieverslag oor misdadige infiltrasie
# FOSA sê dit is tyd vir Suid-Afrika om sy verhoudings met ander handelsvennote te versterk
# En krieket: Nieu-Seeland verloor drie boulers vir die oorblyende twee toetse teen die Windies
# COPE eis die onmiddellike bekendmaking van sleutelgedeeltes van ‘n geklassifiseerde intelligensieverslag oor misdadige infiltrasie van die regstelsel wat in November verlede jaar opgestel is. Die woordvoerder, Pakes Dikgetsi, sê die verslag onthul georganiseerde misdaadgroepe betaal aanklaers en prokureurs om borgtog vir gevaarlike verdagtes te verseker. Hy vra president Cyril Ramaphosa om op te tree, die aanbevelings van die Zondo- en die Mufamadi-kommissie in te stel en openbare vertroue en veiligheid te herstel:
# Forum for South Africa sê die verswakkende verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika kan ‘n bedekte seën wees. Die verhouding tussen die twee lande is gespanne oor die G20, tariewe en die Amerikaanse president, Donald Trump, se bewerings van ‘n volksmoord teen Afrikaners. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê Suid-Afrika het nog nooit ander handelsvennote op dieselfde manier behandel as wat hy Amerika hanteer het nie, en dis nou tyd om dit te verander:
# Die FNB/Buro vir Ekonomiese Navorsing se bou-vertrouens-aanwyser het in die vierde kwartaal tot ‘n gesamentlike 10-jaar hoogtepunt van 43 gestyg teenoor 35 die vorige kwartaal. Die ekonoom Siphamandla Mkwananzi sê die toename is aangevuur deur ‘n 21-punt-styging in die sentiment van kleinhandelaars in ysterware, terwyl bedrywighede onder argitekte en huisbouers ook verbeter het. Hy sê meer as die helfte van die deelnemers is ondanks die styging ontevrede met die huidige toestande, hoewel daar versigtige optimisme heers oor groei in 2026:
# Krieket: Nieu-Seeland het drie sleutelspelers verloor vir die oorblywende twee toetse teen die Wes-Indiese Eilande. Matt Herny en Nathan Smith is beseer in die eerste toets in Christchurch, wat onbeslis geëindig het, en Mitchell Santner het nog nie herstel van ‘n besering wat hom uit die wedstryd gehou het nie. Die boulers se afwesigheid het blykbaar ‘n groot rol gespeel in die Swartpette se onvermoë om die besoekers in die laaste beurt uit te boul. Die tweede toets begin Woensdag in Wellington en die laaste een volgende Donderdag in Mount Maunganui.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-161-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-203-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstadse biblioteke bied ‘n boetevrye week vir kinders van 15 tot 20 Desember, waartydens hulle agterstallige items sonder boetes kan terugbesorg. Daar is tans tien-duisend uitstaande kinderboeke ter waarde van meer as 2,2-miljoen-rand. Sewe boeke van die reeks Diary of a Wimpy Kid is onder die top-tien. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, het ouers gevra om kinders aan te moedig om boeke terug te besorg, en verwys ook na vakansieprogramme by biblioteke:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….