Nuus 15:00
BULLETIN 2 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse styg skerp om middernag
# Suid-Afrika se ekonomie teken 0,5-persent groei aan in die derde kwartaal
# En rugby: Die Stormers kry drie Bokke terug vir die wedstryd teen Bayonne
# Nog ‘n brandstofprysverhoging wag môre op motoriste. Die prys van 93- en 95-oktaan petrol sal om middernag met 29-sent per liter styg, die dieselprys met 82-sent en lampolie met 74-sent, terwyl gaspryse met tot 24-sent per kilogram sal styg. Die Departement van Minerale en Petroleumbronne se woordvoerder, Robert Maake, sê die verhogings word aangevuur deur internasionale petroleumpryse en die wisselkoers van die rand teenoor die Amerikaanse dollar:
# Statistieke Suid-Afrika sê die ekonomie het tussen Julie en September met 0,5-persent gegroei. Dit was hoofsaaklik te danke aan handel, mynbou, finansies, regeringsdienste en landbou. Invoere het egter vinniger as uitvoere gegroei, wat groei effens vertraag het. Huishoudings het meer bestee aan vervoer, voedsel en behuising, wat gehelp het om die algehele besteding met 0,7-persent te verhoog. Bokang Vumbukani-Lepolesa van Statistieke SA sê beleggings het ook toegeneem, veral in vervoertoerusting:
# Die Suider-Afrikaanse Spoorwegvereniging het ‘n nasionale veldtog van stapel gestuur om Suid-Afrika se spoorwegsektor te herbou, binnelandse vervaardiging te bevorder en vertroue in die land se nywerheidsvermoë te herstel. Die uitvoerende hoof, Mesela Nhlapo, sê die veldtog fokus op plaaslike vervaardiging, van onderdele tot volledige spoorwegstelsels. Dit is gemik op die versterking van ekonomiese veerkragtigheid, die uitbreiding van mededingende voordeel en die ontwikkeling van tegniese vaardighede. Nhlapo vra die regering, nywerheid, arbeid en gemeenskappe om te belê in Suid-Afrika en sy leierskap in spoorwegvervaardiging te ondersteun.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging voer vandag onderhoude met vyf kandidate vir die vakante pos van voorsitter van die Nasionale Loteryraad. Hulle is Judy Hermans, Mpho Mosing, Nomazotsho Memani, Thembinkosi Bonakele en Lufuno Nevondwe. Die vakature het ontstaan toe Barney Pityana in Augustus bedank het, met ingang hierdie maand. Die komitee sal elke kandidaat se geskiktheid beoordeel en aanbevelings aan minister Parks Tau voorlê. Die proses het ten doel om sterk leierskap en verbeterde toesig oor die Nasionale Loterykommissie te verseker.
# Rugby: Drie Springbokke wat verlede maand in Europa getoer het, is terug in die Stormers se groep vir Vrydag se eersteronde-wedstryd van die Kampioenebekerreeks teen Bayonne in Frankryk. Hulle is die voorspelers Ben-Jason Dixon, Zachary Porthen en Ntutuhuko Mchunu, terwyl drie Bok-agterspelers – Cobus Reinach, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Damian Williams – steeds ruskans kry en eers oorweeg sal word vir volgende naweek se wedstryd teen La Rochelle in Gqeberha. Die Stormers speel teen hulle gewese spanmaat Herschel Jantjies, wat vroeër vanjaar na Bayonne verskuif het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-362-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-196-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….