Nuus 15:00
BULLETIN 28 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Duduzile Zuma-Sambudla bedank as LP te midde van die Russiese werwingsklag
# Rugby: Wallis se kaptein Jac Morgan is vir maande uit weens ‘n ontwrigte skouer
# En verbruikers word op Swart Vrydag gemaan om versigtig te wees met aankope
# Die MK-party se leier en oudpresident, Jacob Zuma, se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, het vrywillig bedank as ‘n parlementslid. Dit volg nadat Chris Hattingh van die DA ‘n strafregtelike klagte by die Kaapstadse polisiestasie teen haar ingedien het, en haar suster, Nkosazana Zuma-Mncube, beweer het sy het 17 Suid-Afrikaners gewerf om vir Rusland teen Oekraïne te veg. Die MK-party ontken betrokkenheid. Die party beplan ook om gesinne wat geraak is te ontmoet en te help met die repatriasie van die Suid-Afrikaners wat steeds vasgekeer is in die konflikgebied.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die bekamping van georganiseerde misdaad, insluitend bendegeweld en staatskaping, vereis algehele wetstoepassing, doeltreffende ondersoeke en vervolging. Cachalia het in Johannesburg gepraat tydens die bekendmaking van die misdaadstatistieke vir die eerste en tweede kwartaal. Hy beklemtoon georganiseerde misdaad bedreig openbare veiligheid, die ekonomie en nasionale veiligheid, met bendes wat geweld, korrupsie en ontvoerings aanvuur:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, wil migrasie uit alle derdewêreldlande permanent staak. Dit volg op ‘n aanval naby die Withuis in Washington wat hy toeskryf aan mislukkings in immigrasie-keuring tydens die Biden-era. Trump het nie enige lande genoem in ‘n plasing op sy sosialemedia-platform nie. Hy sê die plan sal gevalle insluit wat onder sy voorganger, Joe Biden, se administrasie goedgekeur is. Trump voeg by dat hy alle federale voordele en subsidies vir nie-burgers sal beëindig, en enige buitelandse burger wat as ‘n veiligheidsrisiko beskou word, sal deporteer.
# Rugby: Wallis se kaptein, Jac Morgan, sal minstens die begin van die Sesnasies-reeks misloop nadat hy vroeër die maand sy skouer ontwrig het in die toets teen Argentinië. Die hoofafrigter van sy klub, Ospreys, Mark Jones, sê die 25-jarige flank het ‘n operasie ondergaan en kan maande lank uit wees. Wallis begin hul Sesnasies-veldtog op 7 Februarie op Twickenham teen Engeland en die kompetisie eindig op 14 Maart. Dewi Lake sal Wallis môre aanvoer in die toets teen die Springbokke in Cardiff.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-260-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-175-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-59-sent per vat.
# En laastens: Die Departement van Gesondheid het verbruikers op Swart Vrydag gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hulle goedere koop, veral voedselprodukte. Verbruikers word aangemoedig om gehalte en veiligheid voorop te stel, eerder as hoeveelheid en besparings. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê mense moet waak teen aankope van nagemaakte goedere en voedsel wat reeds verval het, en vra dat vervaldatums op voedselprodukte deeglik nagegaan word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….