Nuus 15:00
BULLETIN 27 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala gee besonderhede oor ‘n kontantbetaling aan Bheki Cele in ‘n Woolworths-sak
# Rugby: Reinach speel Saterdag in sy 50ste toets vir Suid-Afrika teen Wallis
# En matrieks word gevra om verantwoordelik fees te vier na hulle eindeksamen
# Die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala het in die Kgoši Mampuru-gevangenis in Pretoria voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig sy suster het by ‘n FNB-tak 300-duisend-rand onttrek uit Tshwane Medicare24 Holdings se rekening om aan die oudminister van Polisie, Bheki Cele, te gee. Matlala beweer Cele het ‘n miljoen-rand geëis nadat hy hom gehelp het om vuurwapens terug te kry ná ‘n klopjag. Hy beskryf hoe hy na Cele se huis gestap het met die geld in ‘n Woolworths-sak:
# Die Suid-Afrikaanse Verantwoordelike Dobbelberaad sê die Nasionale Tesourie se voorstel vir ‘n nuwe nasionale belasting van 20-persent op aanlyn dobbel is gebrekkig. Die organisasie voer aan die regering wil aanlyn dobbelary belas, al is daar steeds geen behoorlike wet wat dit reguleer nie. Die vereniging se direkteur, Wayne Lurie, waarsku die voorstel loop gevaar om onwettige aanlyn dobbelary te wettig, met belasting op iets wat steeds onwettig is en geen waarborg bied dat die nuwe inkomste skadevermindering sal ondersteun nie.
Die Tesourie het intussen sy eerste infrastruktuur- en ontwikkelings-befondsings-staatseffek onder die plaaslike leningsprogram bekendgestel. Dit het ten doel om ten minste 15-miljard-rand vir krag, water, vervoer en maarskaplike infrastruktuur in te samel. Die Tesourie sê hy maak gebruik van beleggers vir langtermynprojekte terwyl kapitaaltoewysing en deursigtigheid verbeter word. Opbrengste sal deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika se Infrastruktuurfonds vloei, wat die streng beoordeelde Begrotingsgerief vir Infrastruktuurprojekte ondersteun en Suid-Afrika se groeipad versterk.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het verskeie gedwonge veranderinge aan sy span aangebring vir Saterdag se laaste Europese toerwedstryd teen Wallis in Cardiff. Albei spanne is sonder baie van hul eerstekeuse-spelers omdat die wedstryd buite die toetsgleuf val. Suid-Afrika se opdrafspan toon agt veranderinge en ‘n verskuiwing van die een wat Ierland verlede naweek geklop het, met die plaasvervanger-skrumskakel Cobus Reinach wat in sy 50ste toets sal speel. Kaptein Siya Kolisi, Ruan Nortjé, Jasper Wiese, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Canan Moodie, Damian de Allende en Damian Willemse bly oor in die beginspan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-430-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-160-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-68-sent per vat.
# En laastens: Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, waarsku matrieks wat formele Rage-makieties en partytjies bywoon om veilig en verantwoordelik fees te vier. Die laaste vraestel van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen is gister geskryf. Maynier sê leerders wat hierdie partytjies bywoon, moet ‘n “buddy”-stelsel gebruik vir veiligheid, hulle waardevolle artikels goed oppas en heeltyd hul drankies dophou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….