Nuus 15:00
BULLETIN 24 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê Suid-Afrika is daartoe verbind om die gehalte van sy regstelsel te versterk
# Die MK-party veroordeel ‘n noodlottige skietery by die Dube-hostel tydens ‘n werwingsveldtog in Soweto
# En rugby: ‘n Massa-uittog van Bokke laat Rassie met ‘n beperkte groep spelers vir die kragmeting met Wallis
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê baie lande reg oor die wêreld worstel steeds met groot uitdagings rakende geregtelike onafhanklikheid en verantwoordbaarheid. Sy neem deel aan die tweede internasionale konferensie oor geregtigheid in Riaad, Saoedi-Arabië. Die byeenkoms wil globale vennootskappe bevorder en ervarings oor geregtelike gehalte deel. Kubayi sê Suid-Afrika is daartoe verbind om die gehalte van sy regstelsel te versterk:
# Die MK-party veroordeel gistermiddag se noodlottige skietery tydens ‘n werwingsveldtog by die Dube-hostel in Soweto, Johannesburg. ‘n Partylid is dood en twee gewond. Een slagoffer is tans aan die herstel, maar die ander een is steeds in ‘n bedenklike toestand. Die Meadowlands-polisiestasie ondersoek moord en poging tot moord. Nasionale woordvoerder Nhlamulo Ndhlela sê die party werk saam met die owerhede. Hy verwerp politieke intimidasie en dring aan dat lede nie wraak neem nie. Die party sal die voorval by die Verkiesingskommissie aanmeld.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se regering skuld Microsoft 344-miljoen-rand in onbetaalde lisensiegelde. Dit volg nadat die Departement van e-Regering na bewering versuim het om die bedrag te betaal ingevolge die lisensie-ooreenkoms van 2022 tot 2025. Die DA-lid, Michael Waters, sê dit toon reuse-finansiële wanbestuur omdat ‘n moderne regering nie kan werk sonder digitale stelsels nie. Hy voeg by Lesufi se administrasie stel tans kerndienste in gevaar, insluitend gesondheidsorg en onderwys:
Nuus uit die buiteland:
# Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, sê Kiëf sal aanhou om met sy bondgenote saam te werk aan kompromieë rakende die voorgestelde vredesplan wat sy land sal versterk eerder as verswak. Dit volg op gister se gesprekke tussen Amerika en verteenwoordigers van Oekraïne en die Europese Unie in Genève om die Amerikaanse president, Donald Trump, se 28-punt-vredesplan te verfyn. Zelensky het per video-oproep aan Swede se Parlement gesê Rusland moet betaal vir die oorlog. Hy sê ‘n besluit oor die gebruik van Russiese bates is van kritieke belang.
# Rugby: Die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus, sal nie ‘n groot groep spelers hê om uit te kies vir Saterdag se laaste toerwedstryd teen Wallis in Cardiff nie. Die toets val buite die internasionale gleuf en baie van die spelers keer terug na hul klubs. Erasmus het bevestig dat slegs 24 tot 25 spelers beskikbaar sal wees vir die ontmoeting op die Principality-stadion, waar Suid-Afrika sal probeer om die toer onoorwonne af te sluit na oorwinnings oor Japan, Frankryk, Italië en Ierland. Hy kondig sy span Donderdag aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-958-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-68-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….