Nuus 15:00
BULLETIN 20 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dumisani Khumalo is vrygespreek en keer terug na Misdaadintelligensie te midde van aanklagte
# Brown Mogotsi gee Binnelandse Sake die skuld vir die verkeerde geboortedatum en ID-nommer
# En sokker: Bafana daal twee plekke op FIFA se ranglys
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, is onskuldig bevind in ‘n interne polisie-ondersoek en keer terug, ondanks voortgesette strafregtelike aanklagte teen hom. Hy staan tans tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie in verband met die aanstelling van brigadier Dineo Mokwele, wat na bewering op ‘n onreëlmatige manier by die polisiemag aangesluit het. Khumalo staan ook tereg op aanklag van die beweerde misbruik van intelligensiefondse en die magtiging van onbehoorlike eiendomsaankope. Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola steun sy terugkeer en sê die interne proses het geen wangedrag gevind nie.
# Die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, sê dis Binnelandse Sake se skuld dat die verkeerde geboortedatum en ID-nommer op sy rekords is. Hy het voor die Madlanga-kommissie verskyn waar kommissaris Sandile Khumalo hom onder druk geplaas het oor ‘n beëdigde verklaring met die verkeerde geboortedatum op. Khumalo het gevra hoe hy as 13-jarige as ‘n MK-agent kon dien. Mogotsi het volgehou hy is in 1977 gebore en nie in 1979 nie:
# Die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid is woedend oor die noodlottige skietvoorval by die Inxiweni Primary School in Tembisa. Die skoolhoof en ‘n administratiewe personeellid is Dinsdag op die skoolterrein doodgeskiet. Die komitee se voorsitter, Bandile Masuku, sê die tragedie versterk die oproep vir ʼn wapenvrye provinsie:
# Eskom verwelkom die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se goedkeuring van die Verspreidings-agentskapooreenkoms om stygende munisipale agterstallige skuld in te kort wat nou 105-miljard-rand beloop. Uitvoerende hoof Dan Marokane het aan die Parlement gesê die ooreenkoms is slegs ‘n tydelike oplossing en waarsku dat ingrypende herstrukturering van die verspreidingsektor noodsaaklik is. Hy sê slegs nege van 71 munisipaliteite in die skuldverligtingskema betaal lopende rekeninge. Geteikende afskrywings van tot 62,6-miljard-rand word verwag en Marokane sê onopgeloste munisipale skuld bedreig Eskom se finansiële herstel en kredietgradering.
# Sokker: Suid-Afrika het wel gekwalifiseer vir 2026 se Wêreldbekertoernooi, maar Bafana Bafana het twee plekke gedaal op die jongste FIFA-ranglys. Suid-Afrika het van 59ste na 61ste in die wêreld teruggesak, al het hulle ‘n plek in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Kanada, Mexiko en Amerika verseker. Die span het Zambië ook verlede Saterdag 3-1 geklop in ‘n vriendskaplike wedstryd in Gqeberha. Die daling sal egter waarskynlik nie Suid-Afrika se posisie raak wanneer die loting vir die toernooi op 5 Desember in Washington plaasvind nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-548-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-52-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….