Nuus 15:00
BULLETIN 18 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudminister Gigaba word aangekla van korrupsie oor Transnet-kontrakte
# Singapoer lê beslag op ‘n rekordgetal gesmokkelde renosterhorings vanuit Suid-Afrika
# En boks: Wardley is die nuwe swaargewigkampioen nadat Usyk die titel prysgee
# Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het vandag in die Palm Ridge-landdroshof in Gauteng verskyn op aanklag van korrupsie wat verband hou met drie Transnet-kontrakte wat tydens sy ampstermyn onderteken is. Hy staan tereg saam met die voormalige Transnet-bestuurders Brian Molefe, Siyabonga Gama, Anoj Singh en Thamsanqa Jiyane. Die beweerde onreëlmatige verkrygingskontrakte van miljarde rand dateer terug van 2010 tot 2014. Die saak is tot 30 Januarie uitgestel vir die openbaarmaking van die dossier en finalisering van die aanklagte.
# Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, het ‘n omvattende hersiening van BBP-beskermingsdienste gelas nadat getuienis voor die Madlanga-kommissie die geskorste adjunkhoof van die Metropolisie, Julius Mkhwanazi, betrek het. Die kommissie het gehoor dat Mkhwanazi na bewering ‘n onwettige kontrak gesluit het met CAT VIP Protection, wat besit word deur die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala, insluitend vir die misbruik van blou ligte. Xhakaza sê die hersiening sal lede se toewysings en ontplooiings ondersoek en deursigtigheid verseker:
# Huiseienaars en voornemende kopers het rede om optimisties te wees voor Donderdag se vergadering van die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee. Die ontleder Bradd Bendall sê laer rentekoerse en ‘n rand wat versterk vergemaklik verbandterugbetalings, terwyl nuwe kopers voordeel trek uit dalende deposito’s en sterk leningsaptyt. Hy sê huisprysinflasie bly hoog, wat eiendom se langtermynwaarde weerspieël:
# Singapoer se Nasionale Parkeraad het bevestig daar is beslag gelê op ‘n rekordgetal van 35,7-kilogram gesmokkelde Suid-Afrikaanse renosterhorings ter waarde van ongeveer 15-miljoen-rand wat vir Laos bestem was. Die rekord- beslaglegging is ontdek in ‘n vrag wat as meubel-toebehore verklaar is en het ook ongeveer 150-kilogram ander diere-liggaamsdele bevat soos bene, tande en kloue. Ondersoeke het getoon die witrenosterhorings is afkomstig uit Suid-Afrika. Alle renosterspesies word beskerm deur die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies, wat beteken dit is onwettig om handel te dryf daarmee.
# Boks: Die Brit Fabio Wardley is die nuwe WBO-swaargewigkampioen nadat Oleksandr Usyk van Oekraïne die titel prysgegee het. Die 38-jarige Usyk het die Brit Daniel Dubois in Junie uitgeslaan om ‘n tweemalige onbetwiste swaargewigkampioen te word, met al vier gordels. Die Wêreldboksorganisasie het hom toe beveel om teen Wardley te veg, wat Joseph Parker van Nieu-Seeland verlede maand verslaan het. Usyk het egter na deeglike oorweging besluit om die gordel te laat vaar. Wardley is die sesde Brit wat die WBO-swaargewigtitel hou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-311-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-47-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….