Nuus 15:00
BULLETIN 14 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die ANC beskerm sy identiteit in die Appèlhofsaak teen die MK Party
# KwaZulu-Natal se Direkteur van Openbare Vervolging wag op die veroordeelde misdadiger Stuart Scharnick se dossiere
# En tennis: Musetti onttrek ook aan Italië se Davisbekerspan
# Die ANC se president, Cyril Ramaphosa, hou vol die party beskerm sy identiteit ingevolge die wet in die Appèlhofsaak teen die MK-party oor die gebruik van die Umkhonto we Sizwe-naam en -kenteken. MK sê die erfenis behoort aan alle veterane van die vryheidstryd. Die saak fokus op intellektuele eiendom, kopiereg en handelsmerk-betoë. Ramaphosa het in Kliptown, Soweto, gesê hulle wag op die uitspraak:
Ramaphosa sê ook daar word ondersoek ingestel na die saak van 153 Palestynse vlugtelinge wat na Suid-Afrika gebring is. Die vlugtelinge het gister meer as 12 uur op ‘n vliegtuig op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng gesit voordat hulle die gebou kon binnegaan. Ramaphosa het in Kliptown, Soweto, gesê Binnelandse Sake, Internasionale Betrekkinge en intelligensie-agentskappe ondersoek hulle oorsprong en dokumente. Hy het bevestig ‘n aankondiging sal volg sodra die saak behoorlik geëvalueer is:
# Die KwaZulu-Natalse Direkteur van Openbare Vervolging, Elaine Harrison, sê daar is verwikkelinge in die saak van die veroordeelde misdadiger Stuart Scharnick. Die waarnemende speurhoof, Anthony Gopaul, beweer Scharnick, wat met die geskorste adjunk-polisiekommissaris Shadrack Sibiya verbind word, is deur korrupte amptenare beskerm. Ondersoeke het vroeër aan die lig gebring daar is moontlik met sy misdaadrekords gepeuter. Die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag werk saam en toepaslike dossiere sal aan Harrison se kantoor oorhandig word vir verdere ondersoek. Scharnick het die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, van laster aangekla.
# Die Forum for South Africa het die Stad Ekurhuleni veroordeel oor ‘n vereiste dat inwoners minstens 14 dae skriftelik moet kennis gee voor hulle diere vir godsdienstige of kulturele doeleindes slag. Die metro sê tradisionele en godsdienstige slagtery is ʼn belangrike deel van baie vieringe. Dit moet egter aan openbare gesondheids-verordeninge voldoen. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê dis ʼn aanval op Afrika-kultuur en godsdiensregte:
# Tennis: Die wêreld-nommer-nege, Lorenzo Musetti, het besluit om ook nie vir die tweemalige verdedigende kampioen, Italië, te speel in die Davisbeker-eindtoernooi wat Dinsdag in Bologna in sy geboorteland begin nie. Dit volg op ‘n soortgelyke besluit van die land se beste speler, Jannik Sinner. Musetti is gister deur die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, uit die ATP-jaareindtoernooi geskakel. Hy sê hy het aan die Davisbeker onttrek omdat hy nie 100-persent fiks is nie en sy lewensmaat binne die volgende paar dae geboorte sal skenk aan hul tweede kind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-39-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-148-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….