Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Transformation Alliance vra ondersteuning vir matriekleerders wat druip
# Airlink gaan sy roete tussen Durban en Bloemfontein hervat
# En, tennis: Jannik Sinner is op soek na sy eerste Grand Slam-titel
# Die Transformation Alliance versoek alle ouers en Suid-Afrikaners om al die nodige ondersteuning te verleen aan leerders wat nie hulle 2023-matriekeksamen geslaag het nie. Die klas van 2023 het ‘n slaagsyfer van 82,9-persent behaal, teenoor die 80,1-persent van 2022, met die Vrystaat steeds landwyd in die eerste plek met ʼn slaagsyfer van 89,03-persent. Die woordvoerder van die alliansie, Tsakane Manganyi, het leerders gelukgewens:
# Airlink het aangekondig hy sal sy vlugte van Durban na Bloemfontein op die 26ste van volgende maand hervat, met oggend- en laatmiddagdienste. Die uitvoerende hoof en besturende direkteur, Roger Foster, sê hierdie stap is deurslaggewend in die vestiging van Durban as die lugredery se derde spilpunt-lughawe. Hy sê dit is in reaksie op ‘n groeiende vraag vir maklike verbindings, en sê baie meer reisigers maak van die roete gebruik.
# Die Stad Kaapstad se brandbestryders probeer tans om ‘n brand onder beheer te bring wat gisteraand in die Redhill-gebied uitgebreek het. Vyf brandweerwaens, drie watertenkwaens, en ligte voertuie met watertenks, pompe en pype is ontplooi. Die woordvoerder van die stad se brand- en reddingsdiens, Jermaine Carelse, sê die bemanning van drie helikopters is vroeër vanoggend uitgestuur om waterbomme af te gooi. Hy sê geen eiendom is beskadig nie en geen beserings is aangemeld nie:
# TotalEnergies gaan ‘n vloeibare aardgas-projek ter waarde van 379-miljard-rand in Mosambiek hervat ná ‘n stilstand van drie jaar weens militante bedrywighede. Die Internasionale Monetêre Fonds sê veiligheidstoestande in die noorde toon verbetering, met die oog op produksie in 2027. Die IMF waarsku ondanks die vordering bly maatskaplike toestande broos.
# Tennis: Die verdedigende vrouekampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, en Coco Gauff van Amerika is gemaklik deur na die vierde ronde van die Australiese Ope. Die tweede gekeurde Sabalenka het Lesia Tsurenko van Oekraïne met 6-stroop, 6-stroop verslaan terwyl die vierde gekeurde Gauff ʼn oorwinning van 6-stroop, 6-2 oor haar landgenoot, Alycia Parks, behaal het. In die mans-afdeling het die vierde gekeurde Italianer, Jannik Sinner, Sebastian Baez van Argentinië verslaan om die derde agtereenvolgende jaar deur te dring na die ronde van 16. Sinner mik na sy eerste Grand Slam-titel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-380-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….