Nuus 15:00
BULLETIN 13 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nkabinde onthul sy hegte vriendskap met die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris
# Mayibuye iAfrika vra ondersoekkommissies om armoede en werkersomstadighede te ondersoek
# En tennis: Gauff, Osaka en Zverev is onder die bevestigde sterre vir volgende jaar se Verenigde Bekertoernooi
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se personeelhoof, Cedrick Nkabinde, het voor die Parlement se ad hoc-komitee verwys na sy hegte vriendskap met die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkwanazi. Mkhwanazi het hom betrek by hulp aan Mchunu met die opstel van die brief vir die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde. Mchunu het verduidelik hoe Mkwanazi hom gehelp het om werk te kry en hoe hulle mekaar ondersteun het tydens familiesterftes. Hy beskryf hulle verhouding as ‘n sterk band:
# Mayibuye iAfrika het die Parlement en regering versoek om kommissies van ondersoek en komitees aan te stel oor die toestande van plaas-, myn- en huiswerkers, asook dié in die openbare werke- en die sekerheidsektor. Die beweging se president, Floyd Shivambu, vra ook ondersoeke na werkloosheid, moorde in dorpsgebiede, geslagsgeweld en swart armoede. Hy het beklemtoon dat dieselfde dringendheid wat aan korrupsie-ondersoeke gegee word, aan die werklike maatskaplik-ekonomiese stryd van Suid-Afrikaners gegee moet word:
# Die Vryheidsfront Plus beskou die landwye uitstel van die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings as ‘n teken dat dit net soos die e-tolstelsel besig is om te misluk. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het die instelling van die AARTO-wet tot Julie volgende jaar uitgestel. Anton Alberts van die VF Plus sê die proeftydperk in Gauteng is van die begin af geteister deur probleme wat met verloop van tyd erger geword het:
# China se ministerie van Buitelandse Sake het aangekondig premier Li Qiang gaan volgende naweek die G20-beraad in Suid-Afrika bywoon. ‘n Woordvoerder sê Li sal ook Maandag en Dinsdag ‘n geleentheid van die Sjanghai-samewerkingsorganisasie in Rusland bywoon, en Zambië Woensdag en Donderdag besoek. Hy sê Li se teewoordigheid by die G20-beraad beklemtoon China se verbintenis tot multilateralisme en sy betrokkenheid by die G20, wat fokus op belangrike kwessies rondom die wêreldekonomie.
# Tennis: Vyf van die wêreld se toptien-mans en vier van die toptien-vroue sal in Januarie in die Verenigde Bekertoernooi in Australië speel. Die tweemalige kampioen, Span Amerika, sal deur Taylor Fritz en Coco Gauff gelei word. Die wêreld-nommer-drie, Alexander Zverev, sal Span Duitsland aanvoer, terwyl Alex de Minaur die aanval sal lei vir die tuisspan. Span Japan neem die eerste keer deel, gelei deur die viermalige Grand Slam-kampioen Naomi Osaka. Agtien lande sal die vierde agtereenvolgende jaar aan die toernooi deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-941-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-231-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….