Nuus 15:00
BULLETIN 10 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se dogter pleit onskuldig in die Hooggeregshof in Durban
# MK-parlementslede vra Zuma om die beweerde misbruik van 70-miljoen-rand te ondersoek
# En die Wes-Kaap lok miljarde rand se beleggings
# Oud-president Jacob Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, het onskuldig gepleit met die aanvang van haar verhoor in die Hooggeregshof in Durban. Sy staan tereg op aanklagte van aanhitsing tot terrorisme en openbare geweld oor sosialemediaplasings tydens die onrus in Julie 2021 na haar pa tronk toe is vir minagting van die hof. Die verhoor sal na verwagting tot die 21ste duur, met ses getuies, waaronder drie sosialemediakundiges. Zuma-Sambudla hou vol die aanklagte is polities gemotiveerd.
Intussen vra lede van die MK-party se parlementêre koukus die party se president, Jacob Zuma, om ‘n forensiese oudit te laat doen na meer as 70-miljoen-rand wat na bewering uit parlementêre fondse verdwyn het. Volgens Mail and Guardian ontvang die party maandeliks sowat 6,3-miljoen-rand om kiesafdelingskantore te bestuur, maar geen kantore bestaan nie. Koukuslede wil hê Zuma moet aanspreeklikheid verseker te midde van toenemende interne verdeeldheid.
# Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, het die geskorste nasionale adjunk-polisiekommissaris Shadrack Sibiya verdedig en sê hy ken hom slegs as ‘n toegewyde polisiegeneraal, nie ‘n rampokker nie. Dit volg na foto’s op sosiale media van Sibiya en die PA se adjunkpresident, Kenny Kunene, asook bewerings voor die Madlanga-kommissie wat hom met misdadigers verbind. McKenzie sê hy het by verskeie geleenthede saam met Sibiya gewerk en beskryf hom as professioneel:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê die eerste Wes-Kaapse Beleggingsberaad het die kern-visie van die provinsie se Groei-vir-Werk-strategie omvat. Ses belangrike beleggingsverklarings ter waarde van altesaam 50-miljard-rand is tydens die beraad gemaak. Die provinsie se ekonomie het verlede jaar met 0,5-persent gegroei wat dieselfde as die nasionale gemiddeld is. Meyer sê die strategie beoog ‘n ekonomie van een-duisend-miljard-rand teen 2035:
# Krieket: Die vierde T20 tussen Nieu-Seeland en die Wes-Indiese Eilande is weens reën afgelas na minder as sewe boulbeurte. Die Windies is ingestuur om eerste te kolf en het in hulle sewende boulbeurt 38 vir een bereik toe ‘n tweede reënbui die wedstryd op die Saxton-ovaal in Nelson beëindig het. Nieu-Seeland loop 2-1 voor in die reeks met die vyfde en laaste wedstryd wat Donderdag in Dunedin gespeel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-178-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-80-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….