Nuus 15:00
BULLETIN 5 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die leier van die taakspan vir politieke moorde is nie geraadpleeg oor die ontbinding daarvan nie
# AfriForum vra duidelikheid oor probleme met Gauteng se skoolplasings vir 2026
# En tennis: Sabalenka en Kyrgios kom te staan in die nuutste “Stryd van die Geslagte”
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy is nooit geraadpleeg oor die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde nie, al was hy die leier van die projek. Hy sê die brief deur die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, is nie aan hom gerig nie, maar het sy span regstreeks geraak. Khumalo sê die aankondiging het sy Nuwejaarsdag bederf en 110 lede van die taakspan verward en afgestomp gelaat weens die trant daarvan:
# Die Padongelukkefonds het verlede maand ‘n rekordbedrag van 5,5-miljard-rand uitbetaal, die hoogste maandelikse uitbetaling vir die 2025/26-boekjaar. Dit volg na 4,2-miljard-rand in September, wat die totale uitbetalings sedert April op 20,2-miljard-rand te staan bring, teenoor 16-miljard-rand in vorige jare. Die fonds se waarnemende voorsitter, Kenneth Brown, sê dit dui op vordering met die instelling se bestendigheid onder die nuwe raad, wat uitdagings op bestuurs-, finansiële en menslike hulpbron-vlakke aanpak.
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers is bekommerd oor ‘n toename van 400-persent in ingevoerde suiker en waarsku dit kan plaaslike verkope verwoes en duisende landelike werksgeleenthede in KwaZulu-Natal en Mpumalanga bedreig. Plaaslike suikerverkope het op ‘n jaargrondslag met 13-persent gedaal, wat ‘n verlies van 100-duisend ton verteenwoordig. Die organisasie gee gesubsidieerde invoere uit lande soos Brasilië die skuld vir die verwringing van pryse. Die liggaam vra die regering om handelsbeskerming te versterk en die suikerbelasting te skrap ten einde die sukkelende plaaslike bedryf te beskerm.
# AfriForum vra die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, om duidelikheid te gee oor die huidige probleme met skoolplasings vir volgende jaar. Ouers in veral Pretoria en Centurion kla oor verkeerde of geen plasings nie. Daar is ook berigte van ‘n persoon bekend as “Godfrey” wat na bewering omkoopgeld van ouers vra in ruil vir plasings. Carien Bloem van AfriForum sê dis ook kommerwekkend dat die plasingsproses nog nie afgehandel is nie:
# Tennis: Die wêreld se beste vrouespeler, Aryna Sabalenka van Belarus, gaan volgende maand in die Verenigde Arabiese Emirate in ‘n vertoonwedstryd teen die Australiër Nick Kyrgios speel in die vierde sogenaamde “Stryd van die Geslagte”. Die Amerikaner Bobby Riggs het die Australiër Margaret Court in 1973 geklop, waarna sy landgenoot, Billie Jean King, hom ‘n paar maande later oorrompel het. In 1992 het die Amerikaner Jimmy Connors met Martina Navratilova afgereken. Kyrgios sê hy het geweldige respek vir Sabalenka, maar het nog nooit vir ‘n uitdaging teruggestaan nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-742-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-959-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….