Nuus 15:00
BULLETIN 4 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê raadpleging oor die datum vir 2026 se verkiesing duur steeds voort
# Die verkope van nuwe voertuie is die hoogste in tien jaar
# En tennis: Novak Djokovic bevestig sy deelname aan die ATP-jaareindtoernooi
# Die Verkiesingskommissie sê voorbereidings vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing verloop volgens plan. Meer as 305-duisend nuwe kiesers het tussen Januarie en September vanjaar geregistreer, waarvan die meeste digitale platforms gebruik het. Altesaam 508 politieke partye is tans geregistreer. Die adjunk-hoof-verkiesingsbeampte, Masego Sheburi, het aan die media gesê raadpleging duur voort om die presiese datum vir die verkiesing te bepaal:
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, sê ‘n bedreiging- en risiko-ondersoeke is uitgevoer nadat ‘n senior aanklaer beskerming aangevra het vir Getuies A en B se verskyning voor die Madlanga-kommissie. Khumalo het verduidelik sulke ondersoeke is standaard binne Misdaadintelligensie en behels volledige veiligheidsbeheer op individue en hul omgewing. Hy het aan die kommissie gesê die ondersoek het bevind die bedreigingsvlak teen die ondersoekbeamptes en getuies is hoog:
# Naamsa het aangekondig Suid-Afrika se nuwe voertuigmark het verlede maand sy opwaartse neiging voortgesit, ondersteun deur dalende inflasie, ‘n stewiger rand, voortgesette tekens van verbeterende verbruiker-sentiment en vraagherstel in belangrike uitvoermarkte. Algehele binnelandse nuwe voertuigverkope het verlede maand tot meer as 55-duisend-900 eenhede gestyg, die hoogste maandsyfer sedert Maart 2015. Dit het gestyg met sewe-duisend-774 eenhede, of 16-persent, vergeleke met die 48-duisend-222 eenhede in Oktober verlede jaar. Die syfer vir die jaar tot dusver is nou 15,7-persent hoër as dieselfde tydperk in 2024.
# Tennis: Die wêreld-nommer-vyf, Novak Djokovic, het bevestig dat hy gaan deelneem aan die ATP-jaareindtoernooi wat Sondag in Turyn, Italië, begin. Daar was kommer oor die fiksheid van die 38-jarige Serwiër wat verlede maand laas gespeel het in die Sjanghaise Meesterstoernooi in China, waar hy in die halfeindronde uitgeskakel is. Hy het toe die Paryse Meesterstoernooi oorgeslaan. Die top agt spelers ter wêreld sal in die rondomtalietoernooi speel, met die Kanadees Felix Auger-Aliassime en die plaaslike speler Lorenzo Musetti wat sake moet uitspook vir die laaste kwalifiserende plek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-520-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-994-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte, die digitale bank TymeBank het goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Reserwebank gekry om Cheslyn Jacobs as uitvoerende hoof aan te stel, met ingang 1 Januarie volgende jaar. Jacobs is ‘n stigterslid van TymeBank en volg Karl Westvig op, wat as raadgewer aanbly. Voorsitter Thabani Jali het Jacobs se kliënte- en strategiese insig geprys en sê dit sal TymeBank se volgende groeifase aanvuur. Westvig was verantwoordelik vir die uitbreiding van TymeBank se kommersiële aanbod en kliëntebasis, wat nou meer as elf-miljoen gebruikers insluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….