Nuus 15:00
BULLETIN 3 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Verkeershoof verdedig ‘n helikopter-operasie by KT Molefe se woning
# Thailand en Kambodja begin die onttrekking van swaar wapentuig op hul betwiste grens
# En krieket: Tendulkar sê die Wêreldbeker-oorwinning gaan alles verander in die vrouespel in Indië
# Inspekteur George Raftopoulos van die Gautengse Verkeersdepartement het bevestig dat hy ‘n helikopter na die omstrede sakeman Katiso KT Molefe se huis gestuur het na berigte oor ‘n vals operasie. Raftopoulos sê hy het videobewyse geneem oor moontlike geraasklagtes vir Taktiese Operasionele Bestuur en die Burgerlugvaartowerheid. Hy het bewerings van inmenging met ‘n wettige polisie-operasie ontken en beklemtoon dat hy die helikopter vrywillig vergesel het om te verseker daar was geen vals beamptes by Molefe se huis nie:
# Die Departement van Gesondheid bied vanaand ‘n openbare paneelbespreking by die Universiteit van Pretoria aan om universele mediese dekking en gesondheidsekerheid in Suid-Afrika te bespoedig. Dit vind plaas in samewerking met die London School of Economics and Political Science en die Clinton-projek oor gesondheidsdekking. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê universele gesondheidsdekking en gesondheidsekerheid is vandag twee van die dringendste sake in wêreldgesondheid:
# ActionSA het amptelik benoemings vir sy burgemeesterskandidaat in Johannesburg geopen na Vrydag se Senaatsbesluit. Dit volg op groeiende kommer oor staatsbestuur en dienslewering sedert die einde van Herman Mashaba se ampstermyn. Mashaba het reageer op oproepe vir sy terugkeer en gesê hy sal besin terwyl hy ander sterk mededingers toelaat om na vore te kom. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê benoemings sluit op 30 November en die party beloof ‘n geloofwaardige alternatief om die Goudstad te lei:
Nuus uit die buiteland:
# Thailand en Kambodja het begin met die onttrekking van swaar wapentuig en ontmynings-operasies langs hul betwiste grens as deel van stappe om spanning te verlig. Dit volg nadat die lande se leiers verlede week ‘n verbeterde wapenstilstands-ooreenkoms in Kuala Lumpur onderteken het in die teenwoordigheid van die Amerikaanse president, Donald Trump. Die woordvoerder van die Thaise Ministerie van Verdediging, Surasant Kongsiri, het op ‘n mediakonferensie gesê sy land stel die verwydering van landmyne in 13 gebiede voor, en Kambodja in een gebied.
# Krieket: Die Indiese legende Sachin Tendulkar het die land se vroue se Wêreldbeker-oorwinning gelyk gestel aan wat die mans in 1983 reggekry het. Die gasvroue het Suid-Afrika in die eindstryd in Mumbai met 52 lopies geklop om hul eerste wêreldtitel in te palm. Tendulkar sê talle jong meisies in Indië is nou geïnspireer om ‘n kolf en bal op te tel met die geloof om ook eendag ‘n Wêreldbeker te wen. Hy beskryf die oorwinning as ‘n bepalende oomblik in die ontwikkeling van vrouekrieket in die land.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-645-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-drie-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….