Nuus 15:00
BULLETIN 31 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA vra strenger regulering en ses-persent-sondebelasting vir aanlyn dobbelmaatskappye
# Die dodetal weens Orkaan Melissa styg tot 49
# En rugby: Seabelo Senatla ploeg terug in die jeug-spel
# Build One South Africa sê sondebelasting van ses-persent moet op aanlyn dobbelmaatskappye ingestel word om te verseker dat hulle ‘n billike bydrae tot die ekonomie lewer. Adjunkleier Nobuntu Hlazo-Webster het op ‘n virtuele parlementêre vergadering gesê aanlyn dobbelary het ‘n nasionale krisis geword wat kwesbare burgers uitbuit terwyl dobbelmaatskappye min belasting betaal. Sy sê die belasting sal dobbelary in ooreenstemming bring met belasbare bedrywe soos alkohol en tabak, en die inkomste kan gebruik word om rehabilitasie- en jeugopheffingsprogramme te finansier:
# Die vakbondfederasie Saftu vra president Cyril Ramaphosa om dringend ondersoek te laat instel na bewerings van plundering en wanbestuur in die Openbare Beleggingskorporasie. Asive Dyani van Saftu sê indien die bewerings bevestig word, dui dit op ‘n voortdurende patroon van finansiële onreëlmatighede, politieke inmenging en roekelose beleggingsgebruike in ‘n instelling wat verantwoordelik is vir die bestuur van meer as 3,5-duisend-miljard-rand in staatsamptenare se pensioen- en maatskaplike fonds:
# Die DA vra die Spesiale Ondersoekeenheid om vinnig op te tree in sy ondersoek na beweerde korrupsie waarby die voorsitter van die raad van Jozi FM, Rapiste Montsho, betrokke is. Die party sê meer as 35-miljoen-rand in lotery-toelaes is tussen 2013 en 2016 aan die radiostasie in Soweto toegeken, met 24-miljoen-rand wat na bewering tydens Montsho se termyn gesteel is. Toby Chance van die DA sê Soweto se inwoners verdien ‘n gemeenskapsradiostasie vry van korrupsie:
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal weens Orkaan Melissa het tot minstens 49 toegeneem en sal na verwagting verder styg namate soek- en reddingsoperasies in die noordelike Karibiese Eilande voortduur. Owerhede in Haïti het minstens 30 sterftes aangeteken en 20 mense word vermis. Melissa het Jamaika Dinsdag as ‘n kategorie 5-orkaan getref. Die hoofstad, Kingston, is nie geraak nie, maar die weste van die land wel. Reuters het 19 sterftes aangemeld. Die storm reg oor die streek gaan gepaard met vernietigende wind, reën en oorstromings, hoewel die sterkte geleidelik begin afneem.
# Rugby: Die eerste Senatla Sewes-toernooi vir jong spelers begin Woensdag in Kaapstad. Die geleentheid is ‘n vennootskap tussen die voormalige Blitsbok-ster Seabelo Senatla en die Connect-akademie in Parow. Onder-11, onder-13 en onder-15 seunspanne, asook onder-18-meisiespanne van die streek sal oor twee dae meeding. Senatla sê sy herstel van ‘n ernstige motorongeluk twee jaar gelede, met intensiewe rehabilitasie deur Connect se stigter, Murray Ingram, het hom geïnspireer om homself toe te wy aan die mentorskap van die volgende rugby-geslag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-475-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-sewe-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….