Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer begin met ‘n ondersoek na Bheki Cele se Wêreldbeker-plesiertog
# Die Gautengse LUR vra drie dae om leerders te plaas
# En, hokkie: Suid-Afrika maak staat op ervare spelers vir die Wêreldbekertoernooi
# Die DA verwelkom die Openbare Beskermer se ondersoek ná die besoek van die minister van Polisie, Bheki Cele, en sy assistent aan Parys vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi, wat na bewering deur ‘n ongeïdentifiseerde privaat maatskappy betaal is. Die party wil weet of Cele in stryd met die Wet op Etiek van Uitvoerende Lede opgetree het. Okkie Terblanche van die DA beplan om amptelik ʼn etiekklagte by die Parlement in te dien en voer aan Cele se optrede is in stryd met sy verpligtings en pligte as ʼn Parlementslid:
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het die publiek verseker sy departement beplan om die plasing van leerders binne drie dae op te los. Meer as 276-duisend aanlyn aansoekers is suksesvol geplaas by verskillende skole in die provinsie. Sommige ouers is egter ontevrede oor die skole waar hulle kinders geplaas is, en daar is steeds leerders wat nog nie plek het nie. Chiloane sê die departement gaan voort om saam met skole en ouers te werk terwyl hy tydelike opslaanklaskamers voorsien by skole wat dit weens getalle nodig het.
# Die Komitee vir Veiligheid en Sekerheid van die Afrika-unie vra vir selfbeheersing te midde van die spanning tussen Somalië en Ethiopië oor ʼn ooreenkoms met Somaliland, oor toegang tot die Rooisee. Die raad het magte van buite aangeraai om te hou by die beginsel van nie-inmenging in die interne aangeleenthede van lidlande. Die raad het ʼn beroep gedoen op Somalië en Ethiopië om die groeiende spanning te ontlont en betekenisvolle gesprekke aan te knoop wat kan lei tot ʼn vreedsame oplossing. Die AU het sy sterk verbintenis en ondersteuning uitgespreek om die eenheid te bewaar, asook die soewereiniteit van alle lidlande.
# Hokkie: Suid-Afrika se vrouespan maak gebruik van sy spelers se ervaring om hulle na die eindstryd van die Vrouehokkie5’s se Wêreldbeker-toernooi te neem wat vanaf Woensdag tot volgende Saterdag in Muskat, Oman, plaasvind. Hulle het hul plek verseker toe hulle Egipte met 7-0 verslaan het in ‘n belangrike derde-plek-uitspeelstryd. Suid-Afrika ding in Groep B mee met Australië, Oekraïne en Zambië. Die afrigter, Tsoanelo Pholo, het vertroue in die span uitgespreek en hulle aan Newzroom Afrika beskryf as die beste van die bestes vir die toernooi:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-496-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-12-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-31-sent per vat.
# Ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch sê twee uit elke drie tieners wat met pulmonêre tuberkulose gediagnoseer is, ondervind long-abnormaliteite selfs na die suksesvolle voltooiing van behandeling. Die skokkende bevinding het na vore gekom in ʼn nuwe studie deur navorsers. ʼn Geraamde 850-duisend tieners ontwikkel elke jaar tuberkulose, waarvan ongeveer 90-persent in lande woon met ʼn lae en middel-inkomste. Marieke van der Zalm van die universiteit sê adolessensie is ʼn belangrike tydperk vir long-ontwikkeling, en respiratoriese siektes soos TB kan moontlik inmeng met die normale ontwikkeling van die longe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….