Nuus 15:00
BULLETIN 26 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bheki Cele is slegs twee uur gegun om aan sy opvolger as minister van Polisie te oorhandig
# Judges Matter dring aan dat waarnemende regter-president Ledwaba op spesiale verlof geplaas moet word
# En Ramaphosa sê Suid-Afrika en Viëtnam moet saamwerk met die vervaardiging van elektriese voertuie
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, sê hy het slegs twee ure gehad om die portefeulje aan die geskorste minister, Senzo Mchunu, te oorhandig. Cele het voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig hy het ‘n lywige oorhandigingsdokument voorberei, maar daar was nie enige verdere kontak daarna nie. Cele het bygevoeg dat hy opvolg-kommunikasie vir voortgesette sake verwag het, insluitend die taakspan vir politieke moorde, met sleutelkwessies wat nie bespreek is nie:
# Die regterlike waghond Judges Matter sê die waarnemende Gautengse regter-president, Aubrey Ledwaba, moet op spesiale verlof geplaas word na ernstige bewerings van omkopery. Getuie A het aan die Madlanga-kommissie gesê Ledwaba het 2,5-miljoen-rand ontvang om die vermeende kartelbaas Katiso Molefe te help vrylaat, maar Ledwaba ontken die bewerings. Mbekezeli Benjamin van Judges Matter sê dit sal verstandig wees vir Ledwaba om opsy te staan totdat die bewerings deur middel van beëdigde verklarings en formele ondersoekprosedures gestaaf word:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en Viëtnam is verbind tot die oorskakeling na skoner vorme van energie. Ramaphosa het tydens die Viëtnam-SA Sakeforum in Hanoi gepraat. Hy sê Suid-Afrika bevorder hernubare energie- en groen waterstofprojekte, terwyl Viëtnam ook in volhoubare energie-infrastruktuur belê. Ramaphosa sê die twee lande moet saamwerk met die vervaardiging van elektriese voertuie, batteryvervaardiging en skoon energie-tegnologie:
# Fietsry: 2026 se Tour de France gee die verdedigende kampioen, Tajec Pogacar, en sy teenstanders die geleentheid om sake uit te spook op ‘n menigte bergpasse en pieke, onder meer twee skofte op die indrukwekkende Alpe d’Huez. Die wedren van 21 dae oor drie-duisend-333-kilometer begin op 4 Julie in Barcelona, Spanje, en eindig op 26 Julie onder die Arc de Triomphe in Parys. Die roete bied aan Pogacar se vernaamste teenstanders, Jonas Vingegaard en Remco Evenepoel, meer hoop as vanjaar se roete.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-132-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-57-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van die Witwatersrand is gekies as een van 15 spanne wêreldwyd om befondsing te kry van die Bezos-aardfonds se Kunsmatige Intelligensie vir Klimaat- en Natuur-uitdaging. Dis in 2024 bekend gestel met die uitdaging om die krag van KI te gebruik om die dubbele krisis van klimaatverandering en verlies aan bioverskeidenheid te takel. Wits het 31,1-miljoen-rand ter befondsing van sy Creating FineCas, KI-gedrewe toerusting vir weervoorspelling in Afrika ontvang om die akkuraatheid en lokalisering van weervoorspellings te verbeter. Die 15 wenprojekte is uit vyf vastelande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….