Nuus 15:00
BULLETIN 23 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cele sê hy is in 2011 geskors as polisie-kommissaris omdat hy geweier het om sekere bevele uit te voer
# Rusland sê hy is immuun teen nuwe Amerikaanse oliesanksies
# En rugby: Die Haaie verander min aan hulle span vir Saterdag se kragmeting met Scarlets
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, skryf sy skorsing in 2011 en latere ontslag as nasionale kommissaris toe aan sy weiering om sekere bevele uit te voer en nie oor wangedrag nie. Hy het voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig dat hy beskuldig is oor ‘n huurkontrak vir ‘n nuwe polisiehoofkwartier nadat die ou gebou in Pretoria ongewens verklaar is. Hy sê die Openbare Beskermer se bevindinge het tot sy skorsing gelei, en beskryf die proses as onregverdig en polities-gedrewe:
# Die Independent Financial Advisors Forum verwerp die DA se Wetsontwerp op Ekonomiese Insluiting vir Almal as ‘n regressiewe poging om die sentrale rol van ras in Suid-Afrika se geskiedenis van uitsluiting uit te wis. Woordvoerder Njabulo Majola sê swart ekonomiese bemagtiging het tekortkominge, insluitend kaping deur ‘n elite, maar die oplossing is nie om hervorming af te skaf nie, eerder om afdwinging te versterk:
Nuus uit die buiteland:
# Rusland sê nuwe Amerikaanse sanksies teen sy oliebedryf loop gevaar om diplomatieke pogings te benadeel om die oorlog in Oekraïne te beëindig, en dat hy immuun is daarteen. China het ook aangekondig dat hy Amerika se sanksies op die twee grootste Russiese oliemaatskappye teenstaan en sê dit het geen basis in internasionale reg nie. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die maatreëls gister aangekondig nadat planne vir ‘n nuwe beraad met sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, misluk het. Trump kla dat gesprekke met Putin op niks uitloop nie.
# Rugby: Die Haaie wil Saterdag teen Scarlets die eerste deel van die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen op ‘n hoogtepunt afsluit voor die toets-onderbreking. Eben Etzebeth lei die span in Durban met ‘n rotasieverandering onder die voorspelers, waar Emmanuel Tshituka en Phepsi Buthelezi plekke ruil. Makazole Mapimpi se skorsing beteken Edwill van der Merwe skuif van heelagter na vleuel en Jordan Hendrikse begin in die nommer 15-trui. Lukhanyo Am speel senter in die plek van Jurenzo Julius, wat dekking op die bank bied.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-487-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-114-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die Department van Bosbou, Visserye en die Omgewing het bevestig dat geen naamsverandering vir die Nasionale Krugerwildtuin gemagtig is nie. Die amptelike naam bly onveranderd kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede. Die departement se woordvoerder, Thobile Zulu-Molobi, sê daar is geen planne of versoeke om die reservaat se naam te verander nie. Sy waarsku teen die verspreiding van waninligting en dring aan dat die publiek op amptelike regeringsbronne moet staatmaak vir akkurate inligting:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….