Nuus 15:00
BULLETIN 20 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê swart ekonomiese bemagtiging is die kern-aandrywer vir korrupsie
# Zelensky sê hy sal by Trump en Putin se beraad aansluit as hy genooi word
# En sokker: Marokko wen die Onder 20-Wêreldbekertoernooi
# Die DA sê die huidige swart ekonomiese bemagtigingsmodel het ‘n kernaandrywer vir korrupsie geword. Die party sê Suid-Afrikaners sien dit in die grootskaalse plundering van ongeveer twee-miljard-rand uit die Tembisa-hospitaal, en die moord op die Stad Ekurhuleni se hoofouditeur, Mpho Mafole, na bewering oor ‘n tender vir chemiese toilette van 1,8-miljard-rand. Mat Cuthbert van die DA sê die ANC verdedig dit steeds as gevolg van hul gevestigde belange:
# Die UDM-vroueorganisasie sê tot die land se paroolstelsel herbou word op die beginsels van aanspreeklikheid en deursigtigheid, bly dit ‘n gevaar vir die mense wat dit veronderstel is om te beskerm. Die Ouditeur-generaal se onlangse bevindings oor swakhede in die Departement van Korrektiewe Dienste ontbloot ernstige en voortslepende leemtes in die land se paroolstelsel. Die organisasie se sekretaris-generaal, Thandi Nontenja, sê slagoffers moet die middelpunt van paroolbesluite wees en hulle veiligheid moet meer gewig dra as administratiewe gerief:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïene se president, Volodimir Zelensky, sê hy is gereed om aan te sluit by ‘n beraad tussen sy ampsgenote van Rusland en Amerika, Vladimir Putin en Donald Trump, in Hongarye indien hy genooi word. Trump en Putin sê hulle sal moontlik binne ‘n paar weke vergader, terwyl Trump voortgaan met pogings vir ‘n vredesooreenkoms om die oorlog van drie en ‘n half-jaar te beëindig. Zelensky kritiseer die feit dat Hongarye geskies is omdat die Europese Unie-land beskou word as die een met die meeste simpatie vir die Kremlin.
# Sokker: Marokko het Argentinië in Chili 2-0 geklop om die eerste keer die Onder-20-Wêreldbeker te wen. Dis die eerste Afrika-land wat die titel opraap sedert Ghana in 2009. Yassir Zabiri se doele in die eerste helfte het Marokko se eerste Wêreldbeker-titel ooit in enige ouderdomsgroep beklink. Argentinië was die gunsteling nadat hy ʼn rekord ses titels gewen en slegs een uitklopwedstryd verloor het. Die Amerikaner Benjamin Cremaschi het die toernooi se goue bal gewen en Argentinië se doelwagter, Santino Barbi, die goue handskoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-731-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-261-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Universal and Blumhouse se nuwe opvolg-riller, Black Phone 2, het die naweek die beste gevaar by Amerikaanse kaartjiekantore. Ethan Hawke vertolk weer die rol van die reeksmoordenaar, Grabber, en Mason Thames dié van Finn. Disney se wetenskapsfiksie-opvolgfliek Tron: Ares was tweede en die nuweling, Lionsgate, se R-gegradeerde komedie, Good Fortune, met Keanu Reeves en Seth Rogen, het op nommer drie geopen. Channing Tatum se Roofman en Leonardo DiCaprio se aksiekomedie, One Battle After Another, voltooi die top-vyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….