Nuus 15:00
BULLETIN 15 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brown Mogotsi vra uitstel om te reageer op bewerings van die Madlanga-kommissie
# Cosatu sê die bekendstelling van lenacapavir vir MIV-beskerming is ‘n deurbraak
# En die Israelse Weermag sê een van die liggame wat Hamas oorhandig het was nie ‘n voormalige gyselaar nie
# Die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, het die Madlanga-kommissie om uitstel gevra om te reageer op bewerings van korrupsie, politieke inmenging en misdadige bande. Die sperdatum van vyf-dae op sy Reël 3-kennisgewing verstryk hierdie week. SABC News berig Mogotsi sê hy benodig meer tyd om sy regspan te raadpleeg, wat eers Vrydag beskikbaar sal wees. Hy wil ook persoonlik voor die kommissie verskyn. Getuienis wat die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, gelewer het verbind Mogotsi aan misdadige netwerke maar hy ontken die bewerings.
# Die raad vir gehaltebeheer in onderwys, Umalusi het streng nuwe reëls ingestel vir die verskaffers van aanlyn en afstandsonderrig wat die Nasionale Senior Sertifikaat aanbied. Die raad sê hierdie ononderhandelbare vereistes is ontwikkel deur die Departement van Basiese Onderwys, die Onafhanklike Eksamenraad en die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut om geloofwaardigheid en regverdigheid te verseker. Umalusi se uitvoerende hoof, Mafu Rakometsi, het op ‘n nuuskonferensie gesê aanlyn verskaffers moet voldoen aan die nasionale leerplan en fisiese aflegging van die eindeksamen:
# Cosatu sê die MIV-voorkomingsmiddel, lenacapavir, sal ‘n deurbraak vir Suid-Afrika wees. Dit is ‘n revolusionêre, langwerkende inspuitbare middel wat ses maande se beskerming bied met slegs twee jaarlikse dosisse. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het onthul dat hulle van voorneme is om die middel reeds in Maart volgende jaar te begin versprei. Matthew Parks van Cosatu sê Suid-Afrika het die meeste mense wat met MIV leef en sal onder die eerste Afrikalande wees wat die middel ontvang:
# Die Israelse Weermag sê een van die liggame wat Hamas oorhandig het in ruil vir Palestynse gevangenes is nie ‘n voormalige gyselaar nie. Forensiese toetse is gedoen op vier liggame wat gister terugbesorg is, en mediese amptenare het tot die gevolgtrekking gekom dat een nie met enige van die gyselaars ooreenstem nie. Hamas het Maandag 20 oorlewende Israelse gyselaars en agt liggame terugbesorg – ‘n Nepalees, ses Israeli’s en die onbekende agste liggaam. Dit het gevolg op ‘n wapenstilstandooreenkoms wat deur die Amerikaanse president, Donald Trump, bemiddel is.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die kragmeting met Eddie Jones se Japanse span op Wembley in Londen op 1 November gaan taai wees. Suid-Afrika speel op die jaareind-toer ook in Parys teen Frankryk, in Turyn teen Italië, in Dublin teen Ierland en in Cardiff teen Wallis nadat hulle vroeër dié maand die Rugbykampioenskaps-titel die tweede agtereenvolgende jaar gebuit het. Erasmus sê hulle speel nie dikwels teen Japan nie, maar hy verwag ‘n interessante en genotvolle wedstryd op ʼn ikoniese stadion:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-142-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-201-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….