Nuus 15:00
BULLETIN 14 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sibiya sê die Moord- en Roofeenheid is ‘n beter keuse as die taakspan vir politieke moorde
# Twee mans kry lewenslank vir ‘n wrede plaasmoord in Kroonstad
# En krieket: Die Proteas jaag ‘n wenteiken van 277 lopies in Lahore
# Die geskorste nasionale adjunkkommissaris van polisie, Shadrack Sibiya, sê politieke moorde in Suid-Afrika het afgeneem danksy die taakspan vir politieke moorde. Hy voer aan die taakspan se kundigheid sal nou opgeneem word in die Moord- en Roofeenheid vir landwye ontplooiing. Sibiya beklemtoon hulpbronne moet aangewend word op breër ernstige en geweldsmisdade om permanente, goed-verspreide strukture te verseker, terwyl die gespesialiseerde vaardighede wat die taakspan vir politieke moorde ontwikkel het, behou moet word:
Die Madlanga-kommissie het intussen tydlyne gegee vir sy getuienisleiers, News24 en Daily Maverick om ‘n geskil te besleg oor ‘n ander persoon wat Donderdag en Vrydag sonder kameras sal getuig. Voorsitter regter Mbuyiseli Madlanga sê indien dit nie opgelos word nie, moet getuienisleiers asook News24 en Daily Maverick teen 22 Oktober dokumente indien. Madlanga sê geen ander getuies sal in camera getuig sonder vooraf openbare kennisgewing nie:
# Die Streekhof in Kroonstad in die Vrystaat het Mandau Sejani en Daniel Motaung tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ‘n boer, Eric David Wessels. Die mans het Wessels op 24 Oktober 2020 aangeval, hom met ‘n plastieksak versmoor en besittings gesteel. Mojalefa Senokoatsane van die Nasionale Vervolgingsgesag het die uitspraak as ‘n sterk boodskap teen geweldsmisdade in landelike gemeenskappe geprys:
Nuus uit die buiteland:
# Vervoer en dienste in Griekeland word die tweede keer hierdie maand ontwrig nadat vakbonde ‘n 24-uur-staking uitgeroep het teen die regering se plan vir ‘n opsionele werksdag van 13-uur. Die regering sê die lang werksdag, wat waarskynlik môre as wet aanvaar gaan word, is nie verpligtend nie, maar opposisiepartye en vakbonde voer aan dat werkers die gevaar van afleggings loop as hulle weier. Die staking sal openbare en munisipale dienste onderbreek en veerbote en treine lamlê. Vlugte word nie geraak nie. Betogings word beplan vir Athene en ander stede.
# Krieket: Suid-Afrika jaag ‘n wenteiken van 277 lopies in die eerste toets teen Pakistan in Lahore na nog ‘n meesterlike vertoning deur die draaibouler Senuran Muthusamy. Hy het nog vyf paaltjies by sy ses van die tuisspan se eerste kolfbeurt gevoeg en gehelp om Pakistan vir slegs 167 uit te boul. Pakistan het ‘n voorsprong van 109 lopies gehad nadat die Proteas op die derde dag vir 269 lopies uitgehaal is. Mede-draaibouler, Simon Harmer het vier Pakistanse paaltjies ingepalm met snelbouler, Kagiso Rabada die ander een.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-615-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-136-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….