Nuus 15:00
BULLETIN 13 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# POPCRU sê dis tyd vir eerlike dialoog tussen die alliansie-vennote
# SANParke bereik ‘n rekord-omset van 4,1-miljard te midde van sterk finansiële groei
# En ‘n senior EU-diplomaat sê Rusland dobbel met oorlog
# Die sentrale uitvoerende komitee van die polisievakbond POPCRU sê die tyd het aangebreek vir die ANC, die SAKP en COSATU as alliansie-vennote, asook SANCO, om eerlike dialoog te voer. Die SAKP het aangekondig dat hy onafhanklik gaan deelneem aan volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. POPCRU se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê die alliansie is uit noodsaak gebore as ‘n politieke tuiste vir die werkersklas en ‘n strategiese sentrum vir die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing:
# My Vote Counts het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak wat sy betwisting van die grondwetlikheid van die Wet op Politieke Befondsing van die hand gewys het. Die organisasie het aansoeke ingedien by die Konstitusionele Hof en die Hooggeregshof om hul regstryd voort te sit. Joel Bregman van My Vote Counts vra president Cyril Ramaphosa om teen 20 Oktober redes en dokumentasie te verskaf oor die verhoging van skenkingsbeperkings tot ‘n minimum van 200-duisend-rand en ‘n maksimum van 30-miljoen-rand:
# SANParke het ‘n inkomste-toename van elf-persent in die vorige boekjaar aangeteken – van 3,67-miljard-rand tot 4,1-miljard-rand. Dit is die eerste keer dat hy die vier-miljard-rand kerf oorskry. Die uitvoerende hoof, Hapiloe Sello sê 75-persent van die inkomste kom uit kommersiële ondernemings, wat die doetreffendheid van sy handelstrategieë aandui. SANParke het ook ‘n ongekwalifiseerde oudit ontvang en 86-persent van sy prestasieteikens bereik. Sello sê dit is as gevolg van die organisasie se finansiële bestendigheid, bedryfs-uitnemendheid en voortgesette toewyding tot bewaring en die bemagtiging van die gemeenskap.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Senior diplomaat van die Europese Unie, Kaja Kallas, sê Rusland dobbel met oorlog nadat ‘n vlaag Russiese hommeltuie en militêre stralers die groepering se lugruim binnegedring het. NAVO het die verdediging langs sy oostelike grense versterk en Moskou beskuldig dat hy die alliansie se lugverdediging toets. Dit volg op hommeltuig-invalle in verskeie lande en militêre stralers wat Estland se lugruim geskend het. Kallas is in Kiëf vir gesprekke oor militêre en finansiële steun vir Oekraïne, en veral sy energie-infrastruktuur nadat Rusland aanvalle op kragsentrales hervat het.
# Tennis: Die Paryse Meesterstoernooi sal hierdie maand in die La Defense-arena sy buiging maak, met die hoofbaan wat net deur die Arthur Ashe-stadion van die Amerikaanse Ope op die huidige wêreldtoer oortref word. Die hoofbaan kan ongeveer 17-duisend-500 toeskouers huisves. Die nuwe tuisbasis, ‘n binnenshuise arena wat in 2017 in die westelike voorstede van Parys geopen is, is ook die tuiste van die Franse Top 14-rugbyklub, Racing 92. Die toernooi vind plaas van 27 Oktober tot 2 November.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro-en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-245-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-76-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….