Nuus 15:00
BULLETIN 7 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris beweer die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie is diep verdeeld
# Die Staatspensioenfonds skort aansoeke vir tweepot-aftreestelsel-onttrekking tydelik op
# En die Nobelprys vir Chemie word toegeken vir die ontwikkeling van metaal-organiese raamwerke
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie is diep verdeeld. Hy het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê ‘n faksie word gebruik om strafregspleging te saboteer, insluitend ondersoeke na dwelmkartelle. Hy versoek ‘n algehele sluiting en herstrukturering van die Misdaadintelligensie-afdeling en waarsku dit is moeilik om ondersoeke te bestuur wanneer die dossiere na die direktoraat oorskuif:
# Die Staatspensioenfonds het aangekondig aansoeke vir tweepot-pensioenonttrekkings word tydelik opgeskort, en dit is onmiddellik van krag tot 21 Oktober. Die onderbrekings laat die fonds toe om sy stelsels op datum te kry met nuwe aktuariële rentefaktore om te verseker voordele word akkuraat bereken. Ander voordele, insluitend aftree- en sterfte-uitbetalings, sal voortgaan. Die fonds sê met meer as 1,2-miljoen lede, is die kort onderbreking noodsaaklik om regverdigheid en akkuraatheid te handhaaf. Onttrekkingsdienste sal op 22 Oktober hervat word, sodra bywerkings voltooi is.
# Die Stad Kaapstad se Direktoraat Water- en Sanitasie het tussen Julie verlede jaar en Junie vanjaar meer as 15,3-miljoen-rand bestee om vernielde en gesteelde infrastruktuur te herstel en te vervang. Dit sluit kritieke items in soos krane in informele nedersettings, riool-mangatdeksels, watermeters, sowel as klep- en brandkraandeksels. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die publiek moet help om noodsaaklike infrastruktuur te beskerm deur vernielsug en diefstal aan te meld:
# Kanovaart: Die prysgeld vir volgende naweek se Oseaanwedvaart-wêreldkampioenskap in Durban is tot 200-duisend-rand verdubbel. Die mans- en vrouewenners in die enkelkanowedvaart sal elk 26-duisend-rand ontvang. Die top mans- en vroue- Onder-23- en junior roeiers sal elk vyf-duisend-rand ontvang. Die wenners van die gemengde tandem-wedvaart sal sewe-duisend-rand kry, met die Onder-23- en junior bote wat twee duisend-rand huis toe neem. Die mans- en vroue- verdedigende kampioen, Gordan Harbrecht van Duitsland en Kira Bester van Suid-Afrika, het vir die enkelkano-wedvaart ingeskryf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-996-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-35-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-5-sent per vat.
# En laastens, vanjaar se Nobelprys vir Chemie is toegeken aan Susumu Kitagawa van Japan, Richard Robson van Australië en Omar Yaghi van Amerika vir hul ontwikkeling van metaal-organiese raamwerke. Hierdie poreuse molekulêre strukture kan gasse vasvang, water vanuit die lug oes, giftige chemikalieë berg en chemiese reaksies bevorder. Hiener Linke van die Nobelkomitee sê hul baanbrekerswerk kan help om globale uitdagings soos waterskaarste en besoedeling aan te pak en nuwe oplossings bied vir omgewings- en tegnologiese probleme:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….