Nuus 15:00
BULLETIN 7 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevorder handelsbetrekkinge tydens besoeke aan Ierland en België
# Boere kritiseer hul uitsluiting van die Landbou-meesterplan
# En die Parlement se ad hoc-komitee verdaag oor die korrekte toepassing van Mkhwanazi se aanvullende verklaring
# President Cyril Ramaphosa sal hierdie week werksbesoeke in Ierland en België aflê om handels- en diplomatieke bande te versterk. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa ontmoet môre die Ierse president, Michael Higgins, en premier Micheál Martin om samewerking te verdiep in onderwys, wetenskap en belegging. Hy het ook bevestig Ramaphosa sal Donderdag aansluit by die Global Gateway-forum in Brussel, gelei deur die president van die Europese Unie, Ursula von der Leyen:
# Boere en bedryfsorganisasies sê die Departement van Landbou se Landbou- en Agro-verwerkingsmeesterplan ignoreer hul insette. Organisasies soos TLU SA, die Suid-Afrikaanse Landbou-inisiatief en Wildboerdery Suid-Afrika is uitgesluit van toesigvergaderings, ondanks nege formele besware. SAAI se voorsitter, Theo de Jager, sê hulle voel die plan gee voorrang aan ideologiese transformasie bo winsgewendheid, volhoubaarheid en waardeketting-doeltreffendheid. Hy waarsku die uitsluiting van boere kan ‘n herhaling veroorsaak van die kans op mislukkings wat in ander staatsbeheerde sektore gesien is.
# Die parlement se ad hoc-komitee wat bewerings deur die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek, is gedwing om te verdaag na hewige woordewisselings tussen parlementslede. Die vergadering het in wanorde verval oor vrae of Mkhwanazi se verklaring ‘n oorspronklike dokument is of ‘n afskrif van sy vroeëre getuienis voor die Madlanga-kommissie. Die voorsitter van die komitee, Soviet Lekganyane, het die vergadering verdaag om die regstatus van die dokument te bepaal:
# Die woordvoerder van die familie van die ontslape ambassadeur Nathi Mthethwa, Sfiso Buthelezi, het bevestig hy het sy liggaam in die lykshuis besigtig voor repatriasie. Mthethwa is verlede week dood toe hy volgens berigte van die 22ste verdieping van die Hyatt Regency Hotel in Parys geval het. Sy oorskot sal na verwagting Donderdag uit Frankryk vertrek en Vrydag in Suid-Afrika aankom. Buthelezi het voorheen bevestig ‘n kulturele ritueel sal ook uitgevoer word om sy gees te kom haal:
# Sokker: Kylian Mbappé sal sy regterenkel laat ondersoek wanneer hy by Frankryk aansluit voor die volgende ronde Wêreldbeker-kwalifiseerders. Die kaptein het sy enkel beseer aan die einde van Real Madrid se La Liga-oorwinning van 3-1 oor Villarreal Saterdag, wat twyfel laat oor sy beskikbaarheid vir die nasionale span voor die kragmetings met Azerbeijan en Ysland. Liverpool se verdediger, Ibrahima Konate, moet ook toetse ondergaan nadat hy beseer is tydens Saterdag se nederlaag van 2-1 teen Chelsea.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-434-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-957-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….