Nuus 15:00
BULLETIN 6 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen onthul die DA se plan om mense in die middelpunt van regering te plaas in Nelson Mandelabaai
# Johannesburg se kredietuitsig is hersien van negatief na bestendig
# En nog ‘n Franse eerste minister bedank
# Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die party se droom vir Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap is om mense in die middelpunt van die regering te plaas deur bekwame en sorgsame leierskap. Hy het gepraat tydens die saamtrek vir die party se burgemeesterskandidaat in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing, Retief Odendaal. Steenhuisen kritiseer die ANC-geleide koalisie wat nie infrastruktuurfondse bestee het nie en toegelaat het dat korrupsie toeneem. Hy sê die DA sal fokus op basiese dienste, ‘n skoon regering en veiligheid:
# Die Stad Johannesburg verwelkom die besluit van die Globale Kredietgraderings-maatskappy om sy uitsig van negatief na bestendig te verander. Die stad se woordvoerder, Nkosana Lekotjolo, sê die uitsig is in Julie 2023 afgradeer na negatief weens gedempte inkomstegroei, stygende uitgawes en taamlike swak invorderingskoerse. Hy sê die jongste hersiening is ‘n noemenswaardige ommekeer, en onderstreep die positiewe gevolg van sterk leierskap, gesonde bestuur, verstandige finansiële bestuur, strenger interne beheer en doeltreffende gebeurlikheidsbeplanning.
Nuus uit die buiteland:
# FirstRand Namibië het sy kliënte ingelig dat FNB se kitsbanke voorlopig nie die nuwe banknote van die Bank van Namibië kan aanvaar nie. Die bank sê die OTMs kan wel kontant uitbetaal, maar het tegnologiese opgraderings nodig om die nuwe note vir deposito’s te verwerk. Kirsty Watermeyer van FNB moedig kliënte aan om dienste in takke te gebruik vir deposito’s totdat die stelsel volledig aangepas is:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, het eerste minister Sebastien Lecornu se bedanking aanvaar slegs ure nadat hy sy nuwe kabinet bekendgemaak het, wat die land verder in ‘n politieke dooiepunt dompel. Macron het die voormalige minister van Verdediging verlede maand aangestel. Die grootliks onveranderde kabinet het hewige kritiek in die politieke spektrum ontketen. Lecornu het die uitdagende taak gehad om goedkeuring te kry vir ‘n besparingsbegroting volgende jaar in ‘n diep verdeelde parlement. Sy twee onmiddellike voorgangers is verwyder weens meningsverskille oor die bestedingsplan.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Richard Sterne glo sy vertoning in die Alfred Dunhill Links-kampioenskap op St Andrews in Skotland is ‘n reuse-keerpunt in sy loopbaan. Die 44-jarige en John Parry van Engeland was gesamentlik derde. Robert MacIntyre is die eerste plaaslike speler in 20-jaar wat die trofee kon lig, met Tyrrell Hatton van Engeland wat tweede was. Sterne sê die uitslag is bemoedig na sy uitmergelende heupbesering, maar daar is nog werk wat gedoen moet word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-985-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-935-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….