Nuus 15:00
BULLETIN 3 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof beslis die ouderdomsbeperkings vir ouerlike verlof vir aanneem-ouers is ongrondwetlik
# SASSA bevestig die betalingsfoute met ouderdomstoelae van 15 000 begunstigdes is opgelos
# En, GIWUSA vra vir ‘n nasionale dag van aksie om die regering te vra vir die staking van alle handelsooreenkomste met Israel
# Die Konstitusionele Hof het beslis die beperking van ouerlike verlof vir aanneem-ouers van kinders van twee jaar of ouer is ongrondwetlik. Regter Laura Lumka Tshiqi het beslis sulke voorwaardes diskrimineer onregverdiglik teen aanneem-ouers en hulle kinders, en ontneem hulle belangrike tyd om ‘n verhouding te vorm. Sy het vorige bevindinge bevestig, dat verskeie gedeeltes van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, en die gepaardgaande dele van die Werkloosheidversekeringsfonds, aangepas moet word. Die parlement het 36 maande om die foute reg te stel:
# Die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap sê probleme wat ouderdomstoelae-betalings geraak het, is opgelos. Ongeveer 15-duisend begunstigdes het nie gister hul toelaes ontvang nie weens ‘n tegniese fout tussen Capitec en die betalingstussenganger, PayInc. Die uitstaande betalings sal vandag gedoen word. SASSA se woordvoerder Andile Tshona sê maatreëls word ingestel om ‘n herhaling van die voorval te voorkom:
# Die algemene werkersvakbond, GIWUSA, doen ‘n beroep op alle vakbonde en mense wat regverdigheid aanhang, om vir ‘n Nasionale Dag van Aksie saam te staan. Die president van GIWUSA, Mametlwe Sebei, sê die dag is daarop gemik om druk op die regering te plaas om dadelik alle handelsooreenkomste met Israel te staak en ‘n omvattende uitvoerverbod in te stel op steenkool. Hy sê Suid-Afrika se grondstowwe mag nie volksmoord aanvuur nie:
# ‘n Algemene staking in Italië ter ondersteuning van die Gaza-hulpflottielje ontwrig treinedienste en meer chaos word vir pendelaars verwag op die tweede dag van betogings in Rome. Die staking volg na betogings gister in verskeie stede oor die wêreld, insluitend Milan en Rome, waar ongeveer tien-duisend mense van die Colosseum af betoog het. Betogers het vanoggend weer in Rome bymekaar begin kom om verby die groot plein buite die sentrale treinstasie van Termini te stap, waar dienste vir tot 80 minute gekanselleer of vertraag is.
# Sokker: Die doelwagter van Liverpool, Alisson Becker is uit tot na hierdie maand se internasionale breek, wat afrigter Arne Slot ‘n reusehoofpyn besorg terwyl hy probeer om sy span van ‘n mini-ineenstroting te red. Die Reds het nederlae teen Crystal Palace in die Premierliga en Galatasaray in the Kampioeneliga gely nadat hulle die seisoen begin het met sewe agtereenvolgende oorwinnings. Alisson is in die 56ste minuut van Dinsdag se wedstryd deur Giorgi Mamardashvili vervang na ‘n dyspierbesering. Slot het bevestig sy nommer een doelwagter sal nie dié naweek teen Chelsea speel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-374-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-862-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….