Nuus 15:00
BULLETIN 2 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC herbevestig sy toewyding aan hernuwing, dienslewering en aanspreeklikheid
# Minister Tau beklemtoon die rol van die motorbedryf in die Suid-Afrikaanse ekonomie
# En rugby: Beserings noop ses veranderings aan die All Blacks se opdrafspan teen die Wallabies
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party herbevestig sy toewyding aan hernuwing, dienslewering en aanspreeklikheid, terwyl hy die nalatenskap van sy oud-leier, Oliver Tambo, vereer. Hy lig die media in oor die uitkomste van die vergadering van die nasionale werkskomitee, en beklemtoon vordering in munisipaliteite soos Johannesburg en Ekurhuleni in Gauteng en eThekwini in KwaZulu-Natal, waar verbeteringe in paaie, water en elektrisiteit ‘n verskil maak. Mbalula sê die ANC se hernuwing moet in daadwerklike verandering op die grond gesien kan word:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die motorsektor bly ‘n hoeksteen van Suid-Afrika se ekonomie. Hy het tydens die Suid-Afrikaanse Motorweek gesê die bedryf het in 2024 5,2-persent tot die BBP en 22,6-persent tot die vervaardigingsuitset bygedra, met uitvoere wat 268,8-miljard-rand na 155 markte oorskry het. Tau sê ondanks wêreldwye teenspoed kan vennootskappe met lande soos Saoedi-Arabië en Algerië nuwe geleenthede in die vervaardiging van onderdele ontsluit:
# Die regering van Mpumalanga het ‘n twee-daagse beleggings- en mynboukonferensie bekendgestel om die ekonomie, werkskepping en hernubare projekte te bevorder. Premier Mandla Ndlovu sê die provinsie wil minstens 50-miljard-rand se beloftes verkry, en verwag dat groot ondernemings die geleenthede vir langtermynbeleggings sal ondersoek. Die premier sê Mpumalanga is bekend vir steenkool, mynbou, toerisme en staal, maar wil uitbrei deur hernubare energie, en groei en werkskepping bevorder:
# Die South African Spaza Shops Association Young Traders is ernstig bekommerd oor die aanhoudende marginalisering van jong entrepreneurs in die township– en informele besigheidsektor. Die president van die vereniging, Kgothatso Ramautswa, vra die regering om staatsgeboue beskikbaar te stel vir verhuring aan jong handelaars as ‘n manier om ekonomiese bemagtiging en inklusiewe groei te bevorder:
# Rugby: Beserings het die All Blacks se hoofafrigter, Scott Robertson, gedwing om ses veranderings aan sy beginspan te maak vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies in Perth. Die veranderings sluit in Damian McKenzie wat Beauden Barrett op losskakel vervang, Leicester Fainga-anuku op linkervleuel in die plek van Caleb Clarke en die stut Tamaita Williams wat instaan vir Ethan de Groot. Nieu-Seeland het reeds die Bledisloebeker behou met sy oorwinning oor Australië verlede week in Auckland, maar kan steeds die Springbokke verhoed om agtereenvolgende titels te verower.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-759-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-884-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….