Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
# Suid-Afrika bly op hoё gereedheid vir moontlike ingevoerde choleragevalle
# Die Departement van Energie gaan Onafhanklike Kragprodusente van meer inligting voorsien
# En, krieket: ActionSA sê gebrek aan deursigtigheid bestaan oor David Teeger se rol
# Die adjunkminister van Gesondheid, Sibongiseni Dhlomo, sê Suid-Afrika bly op ‘n hoё gereedheidsgrondslag vir moontlike ingevoerde choleragevalle van die naburige Zimbabwe wat tans in ʼn stryd gewikkel is met ʼn uitbreking van die siekte, wat tot dusver meer as 200 lewens geëis het. Suid-Afrika het twee laboratorium-bevestigde gevalle van die siekte in Limpopo aangeteken. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die departement, in samewerking met die Grensbestuursowerheid, het gesondheidstoetsing by die Beitbrug-grenspos verskerp om gereed te wees vir ingevoerde cholera-gevalle:
# Die Department van Minerale Bronne en Energie en die kantoor van Onafhanklike Kragprodusente gaan môre en Donderdag drie virtuele konferensies vir belangstellende bieërs aanbied. Dit volg op die uitreiking van drie nuwe versoeke vir voorstelle vir die openbare verkryging van sewe-duisend-615 megawatt krag uit wind, sonkrag-fotovoltaïese tegnologie, gas en battery-tegnologie wat ontvang is. Die departement sal na verwagting voornemende bieërs van bykomende inligting voorsien oor die benadering ten opsigte van die voortslepende kragtekort in die land.
# City Power in Johannesburg het ʼn gratis lyn beskikbaar gestel wat dit makliker maak vir inwoners om lang kragonderbrekings en voorsieningsprobleme aan te meld. Die gratis telefoonnommer, 0800 003 156, sal van sesuur soggens tot sesuur saans beman word. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die lyn is beskikbaar vir individuele oproepe oor kragonderbrekings van langer as 24 uur en vier ure in die geval van area-onderbrekings:
# Die regering van Mauritius het sy sikloonwaarskuwing tot die maksimum vlak verhoog namate die Tropiese Storm Belal kragtige wind en swaar reën na die eilandnasie bring. Eerste minister, Pravind Kumar Jugnauth het ʼn bevel uitgereik om binnenshuis te bly. Verskeie vlugte wat vir vandag geskeduleer was, insluitende na Frankryk en Suid-Afrika, is gekanselleer. Die Meteorologiese Diens berig die storm beweeg ooswaarts weg van die eiland af. Belal het wydverspreide kragonderbrekings veroorsaak met verskeie voertuie onder water of gestrand weens swaar reën. Sikloon Belal het reeds by die nabygeleë Réunion aangekom en minstens een persoon is dood.
#Krieket: ActionSA vra die president van Krieket Suid-Afrika, Rihan Richards, om te reageer op kommer oor die jongste verwikkelinge wat vrae laat ontstaan het oor deursigtigheid en konsekwentheid. Die partye sê duidelike teenstrydighede kom voor in KSA se besluite, veral oor die kapteinskap van die onder 19-span. Dit volg nadat die Joodse speler David Teeger van sy kapteinskap ontneem is vir die Wêreldbekertoernooi. Tsepo Mhlongo van Action SA sê die situasie rakende die belowende jong talent skep verwarring omdat hy glo steeds in die span is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-855-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-39-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….