Nuus 15:00
BULLETIN 1 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema beskryf sy skuldigbevinding as rassisties en beloof om te appelleer
# Die Afrika Mayibuye-beweging vra ‘n deursigtige ondersoek na Nathi Mthethwa se dood
# En rugby: Die Wallabie-stut James Slipper tree uit na 151 toetse
# EFF-leier Julius Malema het sy skuldigbevinding in die vuurwapenverhoor in die Landdroshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap veroordeel en dit as rassisties verklaar. Hy het aan sy ondersteuners gesê die uitspraak is gelewer om AfriForum, die DA en die Withuis tevrede te stel. Hy verwelkom die onskuldigbevinding van sy voormalige lyfwag, Adriaan Snyman, en beloof om na die Konstitusionele Hof te appelleer:
AfriForum het intussen die uitspraak verwelkom. Die saak spruit voort uit die EFF se verjaarsdag-byeenkoms in Mdantsane in 2018, waar Malema skote afgevuur het. AfriForum, wat die aanklagte aanhangig gemaak het, sê geregtigheid het geseëvier ondanks vertragings. Woordvoerder Jacques Broodryk sê die uitspraak bewys niemand is onaantasbaar nie, en noem dit ‘n groot oorwinning vir aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg:
# Die Afrika Mayibuye Movement het kommer uitgespreek oor die omstandighede rondom die dood van Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa. Hy is by die Hyatt Hotel dood aangetref, met die owerhede wat selfdood vermoed. Die party se woordvoerder, Sydney Baloyi, het sy meegevoel teenoor die familie uitgespreek en vra ‘n deeglike en deursigtige ondersoek:
# Noodsaaklike minerale behoort die kern te vorm van ‘n nuwe handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Amerika. Dis die mening van die Vryheidsfront Plus se leier, Corné Mulder, C5 Capital se stigter en uitvoerende hoof, André Pienaar, en C5 Capital se hoof van regeringsbetrekkinge, Chris Opperman. Hulle sê die fokuspunt van hierdie minerale-ooreenkoms kan ʼn veilige voorspoed-roete wees met die middelpunt in Saldanhabaai aan die Weskus. Hulle sê die oprigting van ʼn terminaal vir vloeibare aardgas sal die invoer van Amerikaanse gas moontlik maak en Suid-Afrika se energie-sekerheid verbeter.
# Rugby: Die Australiese stut James Slipper gaan uittree na Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Nieu-Seeland in Perth. Die Wallabies se mees ervare speler het verlede week sy 150ste toets gespeel toe die Wallabies 33-24 teen die All Blacks verloor het in Auckland. Hy was slegs die derde speler wat die mylpaal bereik het na Alun Wyn Jones van Wallis en die Nieu-Seelander Sam Whitelock. Die 36-jarige Slipper het sy buiging in 2010 gemaak. Hy sê om die Wallabies vir byna 16-jaar te verteenwoordig, was die trotsste prestasie van sy loopbaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-400-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-884-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….