Nuus 15:00
BULLETIN 29 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SOE se ondersoek na die Tembisa-hospitaal sal tot November 2027 voortduur
# Eskom bevestig Kusile se eenheid-6 is in bedryf gestel
# En rugby: Lood de Jager is opgeroep om in Engeland by die Bokke aan te sluit
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê sy ondersoek na die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni, Gauteng, sal tot November 2027 voortduur. Dit volg ná onthullings dat meer as twee-miljard-rand wat vir gesondheidsorg geoormerk was, gesteel is. Die eenheid se hoof, Andy Mothibi, sê siviele verrigtinge is aan die gang om die gesteelde geld terug te eis. Hy sê die eenheid werk steeds saam met wetstoepassing om verantwoording te verseker en verdere korrupsie in die gesondheidsorgstelsel te voorkom:
# Die Africa Unite Borders Bus Trucks Association vra president Cyril Ramaphosa om ‘n proklamasie te onderteken om ondersoek in te stel na oortredings deur misdaadsindikate. Die voorsitter, Phumudzo Mukhwathi, sê die vereniging het ‘n versoekskrif oorhandig oor onwettige busstaanplekke in Johannesburg, korrupte amptenare en regeringswerknemers wat as direkteure op meer as een raad dien. Hy sê die vereniging ondersteun die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se onthullings:
# Eskom het bevestig eenheid 6 van die Kusile-kragstasie in Mpumalanga is amptelik in bedryf gestel, wat die suksesvolle voltooiing van Eskom se bouprogram aandui. Woordvoerder Daphne Mokwena sê hierdie mylpaal is ‘n noodsaaklike deel van die opwekkings-herstelplan en beeïndig bouwerk aan Suid-Afrika se twee uiters belangrike steenkoolkragstasies, Kusile, en Medupi in Limpopo. Sy sê met eenheid 6 wat nou aanlyn is, kan Kusile en Medupi gesamentlik nege-duisend-600-megawatt teen volle vermoë lewer:
# Rugby: Die slot Lood de Jager sal in Londen by die Springbokke aansluit nadat Franco Mostert in Suid-Afrika agetergebly het as gevolg van ‘n gesins-verlies. Die Bokke berei voor vir Saterdag se laaste Rugbykampioenskapswedstryd teen die Pumas op Twickenham. De Jager het ‘n geringe besering opgedoen teen die All Blacks in Wellington, maar heeltemal herstel en is beskikbaar om gekies te word. Suid-Afrika het tans ‘n voorsprong van ‘n enkele punt boaan die punteleer oor Nieu-Seeland, wat tweede is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-995-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-821-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Jong rolprentmaker van Krugersdorp in Gauteng, Koketso Mlongo, het sy kinderjare-passie in ‘n dinamiese loopbaan omskep. Hy het Universal Dreamers Production gestig, as vrywilliger op stelle gewerk en slypskole bygewoon om sy vaardighede te verfyn. Mlongo is bekend vir sy storievertelling en kinematografie en het verskeie kortprente geskryf, geregisseer en vervaardig. Hy sê hy het ‘n diep passie vir storievertelling en is toegewyd om voortdurend te leer. Hy sê sy uiteindelike doel is om sy vaardighede te verfyn om ‘n top-rolprentmaker te word wat internasionaal erken word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….