Nuus 15:00
BULLETIN 25 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die gevangenes-organisasie vir Menseregte kritiseer die Pollsmoor-plan om seine te blok
# Die Vryemarkstigting sê Suid-Afrika se plek op die ekonomiese vryheidsranglys is teleurstellend
# En, Kunene van die Patriotic Alliance sê hy is die beste kandidaat as burgemeester van Johannesburg
# Die Suid-Afrikaanse Gevangenes-organisasie vir Menseregte veroordeel die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, se voorstel om selfoonseine by die Pollsmoor-gevangenis te blok. Die plan word gesteun deur Korrektiewe Dienste en sal poog om gevangenes te verhoed om misdade te koördineer en kontrakteurs af te pers terwyl hul agter tralies is. Die organisasie voer aan dit kan gevangenes se grondwetlike regte skend, insluitend toegang tot regshulp en familie. Die groep het die owerhede aangespoor om oplossings te vind wat ‘n balans sal skep tussen sekuriteit en die beskerming van menseregte.
# Die uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting, David Ansara, sê Suid-Afrika se plek op die ekonomiese vryheidsranglys is teleurstellend, maar nie verbasend nie. Hy sê volgens die stigting en die Fraser Instituut van Kanada se 2025 jaarverslag, beklee Suid-Afrika die 83ste plek uit 165 lande en gebiede. Ansara sê mense wat in lande met hoë vlakke van ekonomiese vryheid woon, geniet meer voorspoed, politieke en burgerlike vryheid, en leef ook langer:
# Die adjunkpresident van die PA, Kenny Kunene, sê hy is die beste kandidaat om Johannesburg te lei in die 2026 plaaslike regeringsverkiesing. Hy is van mening sy prestasie as waarnemende burgemeester spreek boekdele. Die voormalige burgemeesterskomiteelid vir Vervoer sê hy is bewus van die uitdagings waarmee inwoners te kampe het, insluitend behoorlike dienslewering. Hy het in ‘n gesprek met SABC News sy prestasies beklemtoon om Johannesburg se vervoerdepartement binne enkele dae te stabiliseer:
# ‘n Franse hof het die voormalige Franse president, Nicolas Sarkozy skuldig bevind op aanklagte van kriminele sameswering, maar het hom vrygespreek op klagtes dat hy onwettige veldtogfinansiering aanvaar het. Die hofsaak spruit uit beskuldigings dat die oorlede Libiese diktator Moeamer Kadhafi gehelp het om sy suksesvolle presidensiële veldtog in 2007 te befonds. Die saak is die nuutste van ‘n aantal regsprobleme vir die 70-jarige voormalige leier. Sarkozy, wat president was vanaf 2007 tot 2012, is reeds skuldig bevind op twee aparte aanklagte en is gestroop van Frankryk se hoogste eerbewys.
# Rugby: Die Haaie hoop Saterdag in hulle wedstryd teen die Glasgow Warriors hul Verenigde Rugbykampioenskapsveldtog op die regte noot af te skop. Die hoofafrigter, John Plumtree sê die voorry het nog nooit saamgespeel nie, en ook nie die slotte en die skakelpaar nie. Vincent Tshituka is kaptein van die span met ‘n kombinaise van ou gesigte en nuwe spelers in die afwesigheid van Springbokke en beseerde spelers. Die stut Simphiwe Matanzima, skrumskakel Ross Braude, en vleuels Christie Grobbelaar en Edwill van der Merwe, maak hulle debuut vir die Haaie, met Jaden Hendrikse wat as losskakel opdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-452-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-751-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….