Nuus 15:00
BULLETIN 18 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi sê die taakspan vir politieke moorde het met minder lede voortgegaan nadat sy ontbinding beveel is
# Franse betogers veroorsaak landwye ontwrigting oor Macron se begrotingsbeleide
# En die tennislegende Björn Borg onthul sy kankerstryd
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê die taakspan vir politieke moorde het voortgegaan met sy werk selfs nadat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, die ontbinding daarvan beveel het. Mkhwanazi het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê hoewel die span nooit ophou werk het nie, was daar minder lede om die werk te doen. Hy het bevestig hy het nie persoonlik die eenheid ontbind nie en die taakmag het met beperkte mannekrag voortgegaan om politieke moorde te ondersoek:
# ‘n Senior ekonoom by FNB, Siphamandla Mkhwanazi, sê sterker balansstate en koopkrag behoort kleinhandelverkope in die nabye toekoms te ondersteun. Hy sê kleinhandelverkope het in Julie goed presteer en op ‘n jaargrondslag met 5,6-persent gegroei vanaf die 1,7-persent in Junie. Mkwanazi sê dit is die 17de agtereenvolgende maand van positiewe groei op ‘n jaargrondslag en oortref die markverwagtinge van 2,7-persent aansienlik:
Nuus uit die buiteland:
# Franse betogers veroorsaak vandag landwye ontwrigting oor president Emmanuel Macron se begrotingsbeleide. Massa-optogte word verwag, asook vervoerchaos en botsings tussen die polisie en betogers. Eerste minister Sebastien Lecornu het verlede week oorgeneem as Macron se sewende regeringshoof en verandering beloof teen die agtergrond van ‘n voortslepende politieke krisis. Vakbonde en linksgesindes is woedend oor die konsep-kostebesparingsbegroting van sy voorganger, ondanks Lecornu se belofte om die lewenslange voorregte van eerste ministers af te skaf en ‘n plan om twee openbare vakansiedae te skrap.
# Krieket: Australië se hoofafrigter, Andrew McDonald, glo kaptein Pat Cummins, sal fiks wees om ‘n belangrike rol te speel in die reeks om die As teen Engeland. Die snelbouler herstel steeds van ‘n laerug-besering, maar McDonald sê hy behoort gereed te wees om minstens in sommige van die vyf toetse te speel. Hy sê daar is nog heelwat tyd voor die eerste toets op 21 November in Perth begin. Cummins sal nie in volgende maand se witbal-reekse teen Nieu-Seeland en Indië speel nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-299-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-667-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-61-sent per vat.
# En laastens, die Sweedse tennislegende Björn Borg het onderneem om sy gesondheidsuitdaging soos ‘n Wimbledon-eindstryd te benader. Hy het vyf Wimbledon- en ses Franse Ope-titels gewen voor hy in 1983 op 27 onverwags uitgetree het. Borg onthul in sy outobiografie, Heartbeats, dat hy teen uiters aggressiewe prostaatkanker veg. Hoewel dit in remissie is na ‘n operasie, kan dit enige tyd vernietigend terugkeer. Die 69-jarige Borg het die boek, wat vandag gepubliseer word, saam met sy vrou Patricia geskryf. Hy onthul daarin ook sy vroeëre verslawing aan dwelms en alkohol.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….