Nuus 15:00
BULLETIN 10 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Enyobeni-taverne se eienaars is aanspreeklik vir die tragedie wat 21 lewens geëis het
# Die Suid-Afrikaanse regering verwerp Ghana en Nigerië se vergoedingseise
# En sokker: Man United gee besonderhede oor Brittanje se grootste sportstadion
# Die Streekhof in Mdantsane in die Oos-Kaap het bevind die voormalige eienaars van die Enyobeni-taverne, Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu, is wettig aanspreeklik vir die tragedie in 2022 waarin 21 tieners dood is. Die hof het beslis die eienaars het versuim om drankwette af te dwing. Die geregtelike doodsondersoek het maande se getuienis aangehoor vanaf oorlewendes, ondersoekbeamptes en forensiese kundiges oor een van Suid-Afrika se dodelikste taverne-rampe. Die bevinding baan die weg vir die Nasionale Vervolgingsgesag om strafregtelike vervolging teen die eienaars in te stel.
# Die Suid-Afrikaanse regering het Ghana en Nigerië se oproepe verwerp dat hul burgers vergoed moet word nadat hulle die land weens onlangse xenofobiese geweld verlaat het. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê eiendom wat regmatig besit word, bly ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing beskerm, maar informele strukture kwalifiseer nie vir vergoeding nie. ‘n Ontleder van internasionale betrekkinge, Donovan Williams, sê die eise het min regsmeriete en sal waarskynlik nie slaag nie. Hy voer aan dit word eerder deur binnelandse politieke druk aangedryf as deur internasionale reg.
Die DA verwelkom intussen die Departement van Binnelandse Sake se vordering met die afhandeling van meer as 19-duisend uitstaande appèl-aansoeke oor asielaansoeke gedurende die 2025/26-boekjaar. Die DA-lid, Adrian Roos, sê hervormings wat minister Leon Schreiber ingestel het, insluitend verhoogde beoordelingsvermoë en gereelde verhore, het die doeltreffendheid van die asielstelsel verbeter. Hy sê die vordering versterk die integriteit van Suid-Afrika se immigrasieprosesse en help om administratiewe vertragings te verminder.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê die Nasionale Tesourie se besluit om tydelik befondsing van 69 munisipaliteite te weerhou, straf kwesbare gemeenskappe en werkers, terwyl niks gedoen word om wanbestuur en korrupsie te hanteer wat plaaslike regering verlam nie. MISA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê dis tyd dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word. Sy sê die kernfrustrasie in Suid-Afrika spruit uit ‘n botsing tussen die onvervulde politieke beloftes en ingewortelde maatskaplik-ekonomiese ineenstorting:
# Sokker: Manchester United se planne vorder goed vir die bou van Brittanje se grootste sportstadion. Die voorgestelde arena met 100-duisend-sitplekke sal naby die bestaande Old Trafford gebou word. Die ou stadion se toekoms is nog onseker. Die klub het onlangs aangekondig hy het die meeste van die grond vir die Trafford Wharfside-projek verkry, wat as ‘n jaarlikse spilpunt vir sport en vermaak beplan word, terwyl duisende huise ook gebou sal word. Openbare vervoerverbindings sal verbeter word, en daar sal geleenthede wees vir stap en fietsry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-389-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-103-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….