Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag is afgegradeer na fase 2
# Umalusi bevestig die matriek-eksamen van 2023 is nie onder verdenking nie
# En, krieket: Die DA dien ‘n PAIA-aansoek in vir KSA se verslag van die risikobepaling oor Teeger se kapteinskap
# Eskom het beurtkrag afgegradeer na fase 2 weens verbeterde opwekkingslewering en ‘n laer as verwagte vraag na elektrisiteit. Fase 2 het om 12-uur vanmiddag ingeskop en sal voortduur tot 4-uur môremiddag. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokoena, sê die kragnutsmaatskappy sal later vandag meer inligting verskaf oor die vooruitsig vir die week.
# Die onderwys-gehalteversekeringsliggaam, Umalusi, het die inhegtenisneming bevestig van 11 verdagtes uit verskeie dele van die land, wat Limpopo en Pretoria insluit, vir die verkoop van vals matrieksertifikate. Die uitvoerende hoof van Umalusi, Mafu Rakometsi, het die media ingelig oor die beoordeling van die matriekuitslae voor die geskeduleerde vrystelling Vrydag en aangekondig die verdagtes sal dié maand in die hof verskyn. Hy maan die publiek teen die verkryging van vals matrieksertifikate en beklemtoon die belangrikheid van wettige kwalifikasies:
# Die Department van Gesondheid in Limpopo het twee gevalle van cholera in die provinsie bevestig. Beide pasiënte, mans van Zimbabwe van 27- en 43-jaar, het simptome getoon nadat hulle teruggekeer het van feestelikhede en is dadelik opgeneem vir toetse. Die WGO klassifiseer cholera as ‘n hoogs-aansteeklike siekte wat iemand binne ure kan laat sterf as dit nie behandel word nie. Die simptome sluit in ernstige diarree, braking en ontwatering. Die departement se woordvoerder, Neil Shikwambana, maan die publiek om dadelik mediese hulp te kry indien hulle simptome ontwikkel:
# Die Stad Tshwane het 49 sinkgate geïdentifiseer wat so gou moontlik herstel moet word. Die herstelkoste kan meer as 20-miljoen rand elk beloop en die hestelproses kan tot nege maande duur. Die stad sê meer as die helfte van die sinkgate word toegeskryf aan water- en riool-lekkasies. Hy sê hy gee voorkeur aan die sinkgate en beplan die herstelwerk só om die minste moontlike gevaar, skade aan die infrastruktuur, verlies aan sake-bedrywighede te veroorsaak en om toenemende misdaad ook te probeer beperk.
# Krieket: Die DA het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting by Krieket Suid-Afrika ingedien vir sy verslag van risikobepaling ná die besluit om David Teeger sy kapteinskap van die Onder 19-krieketspan te ontneem. KSA het ter verduideliking gesê dit is gedoen weens ‘n sekerheidsbedreiging en het die kapteinskap aan Juan James toegeken vir die Wêreldbekertoernooi wat Vrydag in Suid-Afrika begin. Teeger is steeds in die span. Veronica van Dyk van die DA sê die party eis deursigtigheid van Krieket SA met die aansoek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-543-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-52-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….