Nuus 15:00
BULLETIN 10 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lamola bevestig Suid-Afrika se lidmaatskap van Den Haagse Groep om Palestynse regte te steun
# Sewe mense is sedert Maandag in Kaapstad doodgeskiet
# En atletiek: ‘n Amerikaanse Olimpiese atleet aanvaar ‘n skorsing van 30-maande
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Arika het by die Den Haagse Groep aangesluit om internasionale wette te handhaaf en Israel se onwettige besetting van Palestynse gebiede te beeïndig. Hy het die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie oor die Internasionale Geregshof meegedeel die groep, asook die Madrid-groep, wil ‘n onmiddellike wapenstilstand, onderhandelings en ‘n regverdige vrede sien. Hy beklemtoon Suid-Afrika se verbintenis tot die bevordering van aanpreeklikheid en Palestyne se onvervreembare regte:
# Die Kaapstadse polisie ondersoek sewe moordsake wat gister en eergister in Wallacedene en Eikendal aangemeld is. Die slagoffers was tussen 19- en 25-jaar oud. ‘n Polisiewoordvoerder, Wesley Twigg, sê in Wallacedene is drie vroue en twee mans in twee afsonderlike voorvalle dood. Hy sê die moontlikheid bestaan dat die voorvalle in Wallacedene en Eikendal met mekaar verband hou:
# Die adjunkminister van Polisie, Cassel Mathale, het 78 nuwe voertuie, insluitend 14 pantservoertuie, aan die Valke oorhandig. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê die nuwe vloot het ten doel om die eenheid se vermoë te verbeter en beslissend te kan reageer op georganiseerde misdaad sowel as om bedryfs-doeltreffendheid te verbeter in die stryd teen ernstige en voorkeur-misdade. Sy sê hierdie voertuie sal veral operasies teen ernstige en geweldsmisdade versterk:
# Die MK-party verwelkom ‘n beslissing van die Hooggeregshof in Limpopo as ‘n oorwinning vir deursigtigheid en aanspreeklikheid vir plaaslike regering. Die hof het ‘n aansoek deur die munispale bestuurder van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit van die hand gewys, wat die MK-party se raadslid, Phetole Bosney Mashao, probeer verhoed het om sy toesigpligte uit te voer. ‘n MK-woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die beslissing beskerm raadslede se rol om korrupsie, bedrog, en wanverteenwoordiging in munisipaliteite te beveg.
# Atletiek: Die Amerikaanse Olimpiese silwermedalje-wenner in gewigstoot, Raven Saunders, het ‘n skorsing van 30-maande van die Amerikaanse Teen-opkikkeragentskap aanvaar. Saunders het drie keer in twaalf maande nie die beskikbaarheidsvereistes nagekom nie. Die 29-jarige was nie beskikbaar vir toetse in April, Mei en Desember verlede jaar nie. Die skorsing het begin op 26 Desember toe sy die derde keer nie beskikbaar was vir ‘n toets nie. Die agentskap sê akkurate beskikbaarheidsinligting is noodsaaklik om toetsing buite kompetisies te doen om die gebruik van opkikkers op te spoor en te verhoed.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-291-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-655-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….