Nuus 15:00
BULLETIN 9 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA veroordeel Ramaphosa oor die hoof van die Weermag se besoek aan Iran
# Nersa bevestig ‘n verhoging van vier-persent in Sasol Gas se maksimumprys
# En Nepal se eerste minister bedank ná ‘n jeugopstand oor die verbod op sosiale media
# Die DA kritiseer president Cyril Ramaphosa se besluit om die hoof van die Weermag, Rudzani Maphwanya, nie aanspreeklik te hou oor sy politieke besoek aan Iran wat die Weermag se nie-politiese kode geskend het. Chris Hattingh van die DA sê dit het die Weermag se geloofwaardigheid, nasionale sekerheid en Suid-Afrika se internasionale aansien ondergrawe:
# Die Energiereguleerder het ‘n verhoging van vier-persent in Sasol se maksimumprys van gas vir die 2025/26-boekjaar bevestig. Die aanpassing, wat van volgende maand tot Desember geld, verhoog die maksimumprys van 87-rand-vier-sent tot 90-rand-57-sent per gigajoule, hoofsaaklik as gevolg van die koste van gas van Mosambiek, oliepryse, wisselkoerse, en die Amerikaanse prysaanwyser. Charles Hlebela van Nersa sê dit beteken nie dat kliënte die volle verhoging sal betaal nie, want Sasol Gas behoort die prys laer as die maksimum te hou.
Nuus uit die buiteland:
# Nepal se veteraan-eerste minister, KP Sharma Oli, het vandag bedank nadat jeugbetogers sy bedanking geëis het, ‘n dag ná een van die dodelikste optredes in jare waarin minstens 19 mense dood is. Die versetoptrede, wat gister begin het met eise dat die regering ‘n verbod op sosiale media ophef en korrupsie aanpak, het voortgeduur al was die toepassings weer aanlyn. Betogers het vandag die huis van die 73-jarige Oli, leier van die Kommunistiese Party, aangeval en aan die brand gesteek.
# Sokker: Bafana Bafana speel vandag in Bloemfontein teen Nigerië, wetende dat ‘n oorwinning regstreekse kwalifikasie vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi sal verseker – mits geen strafpunte afgetrek word nie. FIFA moet nog beslis of Suid-Afrika drie punte moet verbeur vir die insluiting van die geskorste Teboho Mokoena in die span wat Lesotho in Maart 2-0 geklop het. Bafana lei Groep C met 16 punte, met Benin tweede en Nigerië derde. Kaptein Ronwen Williams sê hulle is gefokus op die wedstryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-687-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-653-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-36-sent per vat.
# En laastens, Fetale Alkohol-spektrum-steurnisdag verhoog bewusmaking rakende die gevare van drankgebruik tydens swangerskap. Drank wat deur swanger vroue verbruik word, gaan reguit na die fetus en kan onomkeerbare fisieke, intellektuele en gedragskade aanrig. Kenners beklemtoon hierdie versteuring, insluitend Fetale Alkoholsindroom, is heeltemal voorkombaar indien alkohol dwarsdeur die swangerskap vermy word. Gesondheidsorgpersoneel versoek enigiemand wat swanger is of swangerskap beplan om drank heeltemal te vermy en moedig diegene met alkoholafhanklikheid aan om hulp te soek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….