Nuus 15:00
BULLETIN 5 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Man is doodgeskiet buite die Athlone-landdroshof
# Die Stellenbosch-raad stem om sy hulpbronne-bestuurder te skors oor ‘n omstrede video
# En, die kabinet verwelkom die nuwe treinoperateurs om vragdoeltreffendheid en ekonomiese groei te verbeter
# ‘n Man is vanoggend kort voor 10-uur by die Athlone-landdroshof in Kaapstad doodgeskiet. Die slagoffer is geskiet toe hy uit die gebou gestap het. Die polisie is op die toneel en het met die ondersoek begin. Die motief is nog nie bekend nie. Die hof is intussen vir die res van die dag gesluit. Dit volg ná verlede week se skietvoorval in Mitchells Plain waar twee mense geskiet is, waarvan een noodlottig. Die voorvalle plaas klem op die voortslepende bendegeweld in gemeenskappe in Kaapstad en regoor die Wes-Kaap.
# Die Stellenbosch Munisipaliteit het sy bestuurder van menslike hulpbronne, Alexander Kannemeyer, geskors nadat ‘n video versprei is waarin hy voorstel dat die lewe moeilik gemaak moet word vir wit werknemers totdat hulle bedank. Die besluit volg na ‘n dringende raadsvergadering vandag, waar die DA se mosie vir ‘n skorsing deur 27 raadslede goedgekeur is, hangende ‘n onafhanklike ondersoek. Volgens News24, is ‘n aparte mosie van die GOOD-party vir Kannemeyer se onmiddelike afdanking verwerp, met 35 raadslede wat daarteen gestem het.
# Die Kabinet het nuwe treinoperateurs op Transnet se spoornetwerk verwelkom om vragdoeltreffendheid te verbeter en ekonomiese te verbeter. Die nuwe operateurs sal 41 roetes in ses korridors bedryf vir die vervoer van steenkool, chroom, ystererts, mangaan, vraghouers, brandstof en suiker. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die operateurs sal na verwagting van volgende jaar af jaarliks ‘n bykomende 20-miljoen ton vrag vervoer, wat die regering sal help om sy teiken van 250-miljoen ton teen 2029 te bereik:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê maatskaplike vennote wat deur die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad bymekaar gekom het, moet saam reageer om ekonomiese stabiliteit te beskerm en werkers en gemeenskappe bewaar te midde van skokke. Meth het tydens die opening van die NEDLAC-beraad in Sandton, Johannesburg, gepraat. Die minister sê solidariteit gaan oor werkers wat verenig deur gesamentlike bedinging en wat meganismes vir geskilbeslegting vind:
# Motorsport: Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sê ondanks sy straf op die wegspringrooster, is hy vuur en vlam vir die naweek se Italiaanse Grand Prix. Dit is sy eerste wedren in Monza vir Ferrari. Die Brit is in verlede naweek se Nederlandse Grand Prix met vyf plekke gestraf vir ‘n geelvlag-oortreding. Hamilton, wat Ferrari se tuisren hoogstens in die sesde plek sal begin, sê hy sal die passievolle Scuderia-ondersteuners se energie verwelkom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-345-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-551-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….