Nuus 15:00
BULLETIN 29 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die goedkeuring van ‘n M-pokke-toets word versnel
# Die DA sê Gauteng kan ‘n katastrofiese somer van water-onsekerheid beleef
# En sokker: Mourinho word afgedank by ‘n Turkse klub
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het die Cobas MPXV-toets vir M-pokke goedgekeur na ‘n blitsige negedaagse hersiening met behulp van die Afrika-medisyne-regulatoriese harmoniseringsproses. Die goedkeuring, wat ook staatgemaak het op die Wêreldgesondheidsorganisasie se noodgebruikslys, vergroot Suid-Afrika se diagnostiese vermoë vir vroeë opsporing en tydige behandeling, asook die voorkoming van die virus se verspreiding. Woordvoerder Yuven Gounden sê die proses is ‘n mylpaal in harmonisering van mediese toestelle in die streek en die vasteland.
# Statistieke Suid-Afrika het ‘n skerp toename in sakelikwidasies aangemeld met ‘n toename van 16,5-persent in Julie vergeleke met dieselfde maand verlede jaar. Van die 155 likwidasies wat aangemeld is, is 72 maatskappye en 83 beslote korporasies, insluitend 14 verpligte en 141 vrywillige sluitings. Onica Mushwana van Statistieke Suid-Afrika sê likwidasies het oor die eerste sewe maande van die jaar met 1,8-persent gestyg vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar:
# Die DA in Gauteng sê die vinnige verval van Rand Water se bergingstelsel word vererger deur munisipaliteite se versuim om voldoende, noodsaaklike waterinfrastruktuur te voltooi. Die waternutsdiens se bergingstelsel het binne ‘n week van sowat 55-persent tot net minder as 40-persent gedaal. ʼn DA-woordvoerder, Stephen Moore, sê as die stelsel nou al in hierdie toestand is, staar Gauteng ʼn katastrofiese somer van wateronsekerheid in die gesig:
# Sokker: Fenerbahçe het een van die wêreld se mees bekroonde hoofafrigters, José Mourinho, afgedank na slegs twee ligawedstryde die seisoen. Dit volg nadat die Turkse klub Woensdag uit die Kampioeneliga geskakel is toe hulle teen Benfica verloor het in ‘n kwalifiseringswedstryd. Die Portugees, wat beroemde spanne soos Real Madrid, Manchester United, Tottenham Hotspur, Chelsea en Inter Milan afgerig het, het in Junie verlede jaar by die klub aangesluit. Hulle was tweede na Galatsaray in die vorige seisoen se Turkse liga, die Süper Lig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-37-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-407-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: Vandag vyf jaar gelede is ActionSA tydens ‘n regstreekse ateljeeuitsending vanaf Aucklandpark van stapel gestuur. President Herman Mashaba sê die party is gebore uit The People’s Dialogue, ‘n aanlyn interaksie met Suid-Afrikaners na ‘n openbare oproep vir ‘n nuwe party gegrond op beginsels en gedeelde waardes. Hy sê ActionSA se parlementêre span het reeds kragtige wetgewing ingedien en verdere voorstelle gaan volg. Dit sluit in grondwetlike wysigings om adjunkministers af te skaf en verantwoordbaarheid te versterk, en ministeriële uitgawes te verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….