Nuus 15:00
BULLETIN 28 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige Johannesburgse onderwyseres is skuldig bevind aan verkragting en moord op haar kêrel se jong dogtertjie
# Gautengse ouers word gemaan om toestemmingsvorms vir masels-inenting te onderteken
# En China stuur ‘n senior amptenaar na Amerika vir handelsgesprekke
# ‘n Voormalige kleuterskoolonderwyseres van Johannesburg is skuldig bevind aan die verkragting en moord op haar kêrel se vierjarige dogtertjie. Die plaaslike Hooggeregshof het bevind Amber Lee Hughes het Nada-Jane Challita in Januarie 2023 in haar pa, Elie, se huis in Glenvista seksueel aangerand en in die bad verdrink. Hughes het na die kleuter omgesien terwyl haar pa uitstedig was nadat hulle rusie gemaak het. Hughes het onlangs haar pleit op die moordaanklag na skuldig verander, maar ontken dat sy Nada-Jane verkrag het.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid vra ouers en voogde om toestemmingsvorms te teken sodat hul kinders teen masels ingeënt kan word. Die veldtog van ses weke wat tot 12 September duur, is daarop gemik om meer as drie-miljoen kinders in te ent. Die provinsie het sedert Januarie meer as 400 bevestigde maselsgevalle aangemeld. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, waarsku dat lae getalle toestemmingsvorms kinders kwesbaar laat:
# Die uitvoerende hoof van Coaltech SA, Avhurengwi Nengovhela, sê Afrika moet sy steenkoolbronne benut en nie op Westerse lenings staatmaak om die energiekrisis aan te pak nie. Nengovhela het sy saak vir steenkool gestel tydens die debat oor die Billike Energie-oordrag by die Kontinentale energie- en infrastruktuurforum in Sun City, Noordwes. Hy voer aan Afrika beskik oor oorgenoeg steenkool en kundigheid. Hy verwerp eksterne druk vir Billike Energie-oordrag en dring aan dat Afrika sy eie energietoekoms kan aanvuur:
# China se Internasionale Handelsverteenwoordiger en adjunkminister van Handel, Li Chenggan, sal hierdie week ‘n afvaardiging na Washington lei vir handelsgesprekke, terwyl die twee lande streef na ‘n wapenstilstand ná maande van wrywing. Albei lande het stygende tariewe op mekaar se uitvoere ingestel. China is die wêreld se voorste vervaardiger van seldsame aardmetale, wat gebruik word om magnete te maak wat noodsaaklik is vir die motor-, elektronika- en verdedigingsbedryf. Die lande het sedertdien ooreengekom om aan te beweeg. Die dreigende herinstelling van hoër tariewe op mekaar se uitvoere is uitgestel tot 10 November.
# Krieket: Die Engelse snelbouler Mark Wood hoop om volgende maand vir Durham in die graafskap-kampioenskap te speel voor die reeks om die As teen Australië. Die 35-jarige het nog nie sedert Augustus verlede jaar in ‘n toets vir Engeland gespeel nie. Hy het in Februarie ‘n kniebesering opgedoen op die Kampioenetrofeetoernooi. Wood het in ‘n onderhoud met die potgooi Stick to Cricket gesê hy is vasberade om fiks te wees vir die reeks om die As:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-949-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-403-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….