Nuus 15:00
BULLETIN 26 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Collen Mashawana wil Daily Maverick se berigte met ‘n hofbevel verbied
# Die Verkiesingskommissie berei voor vir 2026 se plaaslike regeringsverkiesing
# En motorsport: Pérez en Bottas gaan moontlike volgende jaar vir Cadillac jaag
# Die sakeman en filantroop Collen Mashawana het ‘n dringende aansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien om Daily Maverick te verbied om verder berigte te publiseer wat hom verbind met beweerde korrupsie by die Onafhanklike Ontwikkelingstrust. Die joernalis Pieter-Louis Myburgh word as respondent genoem. Dit volg ná onthullings in Malaka’s Mansion, wat betalings deur Mashawana se stigting aan die huis ter waarde van 16-miljoen-rand van ‘n geskorste uitvoerende hoof van die trust uiteensit. Mashawana beweer dit doen skade aan sy beeld, maar kritici sê die hofaansoek bedreig mediavryheid.
# Die adjunk-nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, versoek dat ‘n volbank regters sy aansoek moet aanhoor om terug te keer werk toe. Hy is op spesiale verlof geplaas na die opspraakwekkende bewerings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, van korrupsie in die strafregstelsel. Die Madlanga-kommissie het vanoggend aangekondig sy verhore oor die bewerings is uitgestel weens verkrygings-vertragings. Sibiya hou vol dat hy niks verkeerd gedoen het nie:
# Die Verkiesingskommissie sê voorbereidings is onderweg vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing, met ‘n sterk klem op inklusiwiteit. Die kommissie het bekend gemaak dat 55-persent van geregistreerde kiesers vroue is terwyl meer as 34 nuwe politieke partye sedert verlede jaar geregistreer is, wat die totaal op 472 te staan bring. Hoofverkiesingsbeampte Sy Mamabolo het die media ingelig dat wyksgrense nou gefinaliseer word:
Nuus uit die buiteland:
# Australië het die Iranse ambassadeur, Ahmad Sadeghi, verban en beskuldig dat die land aandadig is aan anti-semitiese brandstigtingsaanvalle in Sydney en Melbourne. Dit is die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog dat Australië ‘n ambassadeur verban. Eerste minister Anthony Albanese sê intelligensiedienste het tot die gevolgtrekking gekom dat Iran minstens twee antisemistiese aanvalle uitgevoer het. Hy sê Teheran was agter die brandstigting by ‘n kosjerkafee in die voorstad Bondi in Sydney in Oktober verlede jaar en ook ‘n groot brandstigtings-aanval by die Adass Israel-sinagoge in Melbourne in Desember.
# Motorsport: Die Mexikaanse renjaer Sergio Pérez en die Fin Valtteri Bottas gaan volgens berigte volgende seisoen by die Formule Een-nuweling, Cadillac, aansluit. General Motors is verlede jaar as ‘n elfde span toegelaat en het besluit om onder die Cadillac-handelsmerk deel te neem. Pérez is nie vanjaar by ʼn span nie nadat Red Bull hom aan die einde van die vorige seisoen laat gaan het. Bottas is na twee jaar by Sauber vervang en is vanjaar as reserwe-bestuurder terug by sy vorige span, Mercedes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-865-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-377-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….