Nuus 15:00
BULLETIN 8 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier waarsku dat Amerikaanse heffings die einde van AGOA kan beteken en duisende werksgeleenthede bedreig
# BOSA bepleit die aanstelling van ‘n werksgerigte SA-ambassadeur in Washington ná die skokaankondiging oor invoertariewe
# En rugby: Die gewese Springbok-senter Jan Serfontein verskuif na die Bulle
# Die leier van die DA, John Steenhuisen, sê die nuwe Amerikaanse heffing van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere sal ‘n verwoestende slag vir die ekonomie wees. Hy waarsku dat dit ook die einde van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika kan beteken. Steenhuisen sê sleutelnywerhede soos landbou, vervaardiging en mynbou sal die ergste getref word. DA-woordvoerder Willie Aucamp moedig president Cyril Ramaphosa aan om vinnig op te tree voor die heffings op 1 Augustus in werking tree:
BOSA vra Ramaphosa intussen om vinnig ‘n geloofwaardige, gekwalifiseerde en gerespekteerde ambassadeur in Washington aan te stel na die aankondiging van die tariewe. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê hierdie soort straftariewe sal ‘n verlammende uitwerking op belangrike uitvoere hê:
# Die tweede dag van die 43ste Suider-Afrika Vervoerkonferensie vind plaas in Pretoria met die fokus op lugvaart, en mik om 42 miljoen lugrederypassasiers teen 2029 te bereik. Die geleentheid bring beleidmakers en akademici bymekaar om volhoubare vervoer te bevorder, met besprekings oor die intergrasie van hommeltuie in tradisonele lugruime. Bedryfskenners sê hoewel wetgewing oor hommeltuie meer as ‘n dekade gelede in Suid-Afrika bekendgestel is, is die land se integrasie steeds agter. Intussen is ses strategiese teikens gestel om beleid, navorsing en beweeglikheids-oplossings in Suider-Afrika te koördineer.
# Rugby: Die Bulle het bevestig dat die voormalige Springbok-senter Jan Serfontein van Montpellier by die unie aansluit. Hy voeg hom by die Bok-losskakel Handré Pollard, die Stormers-skrumskakel Paul de Wet, die voorspeler Nico Janse van Rensburg wat een wedstryd vir die Bokke gespeel het, en die Bok-slot Marvin Orie, wat almal onlangs kontrakte geteken het. Kurt-Lee Arendse en Henry Immelman is terug na korttermyn-kontrakte in Japan en by die Haaie. Die Bulle soek ‘n nuwe affrigter nadat Jake White die unie Vrydag met onmiddelike ingang verlaat het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-963-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-326-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die Transnet Nasionale Hawe-owerheid het ‘n nuwe plaaslik-vervaardigde veeldoelige vaartuig ter waarde van 120-miljoen-rand in die Kaapstadse hawe geloods. Die vaartuig van 19-meter, Yarona, is gebou deur Damen Shipyards van Kaapstad en word gebruik vir onderhoud, besoedelingsbeheer, en baggerbedrywighede. Die owerheid sê die vaartuig versterk sy mariene-vloothernuwingsprogram. Die projek het 18 plaaslike werksgeleenthede geskep en drie nuwe bemanningslede bygevoeg, en verbeter bedryfs-doeltreffendheid en omgewingsbestuur op see.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….