Nuus 15:00
BULLETIN 3 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Studentefederasie eis parlementêre ingryping oor minister Nkabane se gebrek aan optrede
# Die kletsrymer Kanye West se Australiese visum word opgeskort
# En Liverpool en die Premierliga rou oor die dood van die Portugese sokkerspeler Diogo Jota
# Die Suid-Afrikaanse Studentefederasie eis optrede van die parlementêre portefeuljekomitee vir Hoër Onderwys oor minister Nobuhle Nkabane se stilswye oor kritieke studentekwessies. Die president van die federasie, Keamogetswe Masike, sê herhaalde pogings om met die minister te skakel, is geïgnoreer. Kommer sluit in die raads-aanstellings van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, die leierskap van die Suid-Afrikaanse Studente-unie wat verval het, ongeregverdigde aftrekkings van toelaes en die verlies van 145-miljoen-rand aan privaat verblyfbetalings. Hy waarsku oor nasionale studentemobilisering tensy dringende ingryping en verantwoordbaarheid volg.
# ActionSA vra die regering en die Ministerie van Polisie om die land se fluitjieblasers te beskerm. Die party sê dit kom na die moord op die hoof van Korporatiewe en Forensiese Ondersoeke in die Stad Ekurhuleni, Mpho Mafole wat in Kemptonpark doodgeskiet is. Michael Basch van ActionSA sê die moord is die tweede noodlottige aanval en derde gewelddadige aanval op senior amptenare in Ekurhuleni se Departement van Finansies sedert 2023:
# Die DA in Mpumalanga ondersteun die ingrypingstrategieë teen die boubedryf-mafia in die provinsie. Die provinsiale Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer het aangekondig ‘n nasionale beraad sal byeengeroep word om hierdie misdadige sindikate uit te roei. Die DA-lid, Teboho Sekaledi, sê bouprojekte wat vertraag is, het ‘n las geword vir belastingbetalers en word waarskynlik as ‘n kontantkoei vir ANC-kamerade gebruik:
# Australië se minister van Binnelandse Sake, Tony Burke, het bevestig die Amerikaanse kletsrymer Kanye West se visum is gekanselleer oor ‘n snit wat Naziïsme bevorder. Die liedjie “Heil Hitler” loof die Nazi-leier Adolf Hitler. Dis in Meimaand op sosiale media en musiek-stroomplatforms vrygestel. Die onttrekking van die visum volg op West se reeks anti-semitiese plasings op X, insluitend een wat sê “ek is lief vir Hitler.” Burke sê hoewel die vroeëre kommentaar nie sy visumstatus beïnvloed het nie, is dit heroorweeg na die vrystelling van die snit.
# Sokker: Liverpool en die Premierliga het hulle skok en verplettering uitgespreek oor die dood van Liverpool se Portugese ster, Diogo Jota, en sy broer Andre. Die broers het in ‘n motorongeluk in Spanje gesterf. Die 28-jarige Diogo het 182 wedstryde vir Liverpool gespeel, 65 doele aangeteken en gehelp om 2024/25 se Premierliga-titel te verower. Hy het ook die Carabao-beker in 2022 gewen en twee keer die Nasiesliga saam met Portugal gewen. Die Premierliga sê sokker het ‘n kampioen verloor wat gemis sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-746-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….