Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israelse generaals word beskuldig van die uitspreek van kommerwekkende volksmoord-voornemens
# Minister Lamola veroordeel Hamas-militante se neem van gyselaars ten sterkste
# En, sokker: Marokko onder druk in Afcon na goeie Wêreldbeker-vertoning
# Die Suid-Afrikaanse regering glo Israel koester ‘n volksmoordvoorneme teen die Palestyne in Gaza, met verwysing na konsekwente optrede en ‘n duidelike patroon. Die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland hoor tans Suid-Afrika se saak aan waarin hy Israel van volksmoord beskuldig. Hierdie stap strook met ‘n wêreldwye oproep vir ‘n skietstilstand in Gaza. Die regering se regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, sê een-persent van die Palestynse bevolking is uitgeroei, terwyl 85-persent in Gaza ontwortel is:
Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, sê intussen die Suid-Afrikaanse regering veroordeel onomwonde die neem van gyselaars deur Hamas. Hy lei Suid-Afrika se afvaardiging na Den Haag in Nederland waar die land se volksmoordsaak teen Israel in die Internasionale Geregshof aangehoor word. Lamola voer aan die regering vra die hof om voorlopige maatreëls te oorweeg, wat hy aanvoer nodig is om ernstige en onherstelbare skade teen Palestyne in Gaza te voorkom:
# Die Duitse sagtewarereus SAP het ingestem om 4,1-miljard-rand te betaal om omkopery-ondersoeke in Suid-Afrika en die Verenigde State te skik. News24 berig die onderneming het erken hy het omkoopgeld betaal om kontrakte van staatsondernemings, insluitend Eskom, te verkry tydens die staatskapings-era. Die skikking is met die Amerikaanse Departement van Justisie, die Sekerheids- en Uitruilingsommissie en Suid-Afrikaanse owerhede bereik. SAP sê hy het stappe gedoen om sulke wangedrag in die toekoms te voorkom en om sy nakoming- en etiekprogram te verbeter.
# Die EFF sê dit is nie genoeg dat die raadsvoorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khoza, 30 dae verlof neem om die raad in staat te stel om al die bewerings teen hom te hanteer nie. Die party sê Khoza moet weet daar is nie meer plek vir hom by die skema nie, nadat hy ontbloot is as ‘n bloedsuier wat selfverryking voorop gestel het ten koste van arm studente. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Thambo, sê Khoza en sy makkers moet weet hulle sal nooit weer toegang tot die skema hê nie.
# Sokker: Marokko is volgens berigte onder druk om sy goeie vertoning by verlede jaar se Wêreldbekertoernooi voort te sit in die Afrikabeker-toernooi wat Saterdag in die Ivoorkus begin. Die land het die halfeindstryd in Katar gehaal, maar kon die Afrika-vertoonstuk net een keer, in 1976, wen. Marokko se afrigter, Walid Regragui, sê die Wêreldbeker het aan sy spelers die ondervinding van groot kompetisies gegee, maar Afcon is altyd ‘n ingewikkelde toernooi. Sy span is in Groep F saam met die Demokratiese Republiek van die Kongo, Tanzanië en Zambië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-991-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….