Nuus 15:00
BULLETIN 27 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile vra die jeug om inklusiewe ontwikkeling by die G20-gesprek te lei
# Rwanda en die DRK slulit ‘n vredesooreenkoms in Washington
# En Olimpiese Spele: Die IOK gaan die aanwysingsproses van toekomstige gasheerstede hersien
# Adjunkpresident Paul Mashatile het jongmense gevra om die voortou te neem met die bou van ‘n meer inklusiewe en volhoubare wêreld. Hy het tydens die G20-jeuggesprek in Sandton, Gauteng, gesê die jeug moet ‘n aktiewe rol in besluitneming speel en nie net as begunstigdes gesien word nie. Mashatile het beleggings in onderwys, digitale vaardighede, en ondersteuning vir ondernemings in jeugbesit aangemoedig. Hy het ook die regering se ondersteuning bevestig vir ‘n nuwe handelsooreenkoms wat die jeug en vroue insluit:
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging gaan Dinsdag twee e-handelplatforms bekendstel. Die platforms word aangebied deur ProudlySA en sal plaaslik-vervaardigde produkte aan verbruikers bied. ProudlySA sê dit sal klein, medium en mikro-ondernemings ondersteun. Een platform sal korporatiewe kopers help om plaaslike verskaffers te vind terwyl die ander een klante sal help om die produkte te kry wat hulle nodig het. Die departement sê die platforms sal gehalteprodukte bied wat in Suid-Afrika gemaak is.
# Die DA in die Wes-Kaap het inwoners versoek om oplettend te wees en owerhede in die vakansie te help om opsetlike beskadiging en diefstal by plaaslike skole te help voorkom. Skole sluit vandag vir die wintervakansie. Leon van Wyk van die DA sê gedurende die skoolvakansie in Maart was daar 26 voorvalle van diefstal en beskadiging by 21 skole in die provinsie, waarvan die koste altesaam meer as 230-duisend-rand beloop het:
# Die ministers van Buitelandse Sake van Rwanda en die Demokratiese Republiek die Kongo gaan na verwagting vandag ‘n geskiedkundige vredesverdrag in Washington onderteken in die teenwoordigheid van hulle Amerikaanse ampsgenoot, Marco Rubio. Die ooreenkoms, wat deur Katar en Amerika bemiddel is, sluit gesamentlike veiligheidskoördinering, die ontwapening van gewapende groepe en vlugtelinge se terugkeer in. Tegniese spanne het die konsep op 18 Junie onderteken. Die instel en nakoming is die sleutel tot blywende vrede. Die ooreenkoms is egter bevraagteken weens onduidelikheid, insluitend rakende die ekonomiese onderdeel.
# Nou sportnuus: Die Internasionale Olimpiese Komitee het besluit om die proses vir die verkiesing van toekomstige gasheerstede vir die Somer- en Winterspele te onderbreek. Dit volg na ‘n tweedaagse uitvoerende raadsvergadering in Lausanne, Switserland. Die president van die IOK, Kirsty Coventry, sê hulle sal ‘n werksgroep stig wat sal kyk na die bod-proses en die regte tyd om oor die gasheerstad vir ‘n Spele te besluit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 24-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-73-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-286-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………….