Nuus 15:00
BULLETIN 26 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni bevestig die afdanking van Andrew Whitfield van die DA as adjunkminister
# Koue, nat weer duur voort in die Wes-Kaap
# En motorsport: Span Suid-Afrika word aangekondig vir die Junior Veldren-wêreldkampioenskap
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê president Cyril Ramaphosa het Andrew Whitfield van die DA as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging verwyder. Dit volg na toenemende bespiegeling omtrent ‘n kabinet-skommeling, wat na vermoede gekoppel is aan die omstredenheid rondom die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, se hantering van die SETA-raadsaanstellings. Ntshavheni het die media ingelig dat Ramaphosa ingevolge die Grondwet opgetree het:
Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, het die federale uitvoerende gesag intussen byeengeroep vir ‘n dringende vergadering ná Ramaphosa se besluit om Whitfield af te dank. Zille sê die party sal verdere kommentaar lewer na afloop van die besprekings oor die samestelling van die uitvoerende gesag in die regering van nasionale eenheid.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê rampspanne bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag terwyl die koue, nat weer in die provinsie voortduur. Hy sê vloedgeteisterde gebiede verkeer steeds in gevaar aangesien Vlak 4-waarskuwings vir skadelike golwe en Vlak 2-waarskuwings vir reën en wind van krag bly. Die direkteur van Rampbestuursoperasies, Sonja Chinnian, versoek inwoners om binnenshuis te bly en veiligheidsriglyne te volg:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ‘n beleidsverklaring uitgereik wat dringende optrede eis teen georganiseerde sindikate wat waterinfrastruktuur saboteer. Die dokument beskryf wetlike en beleidsinstrumente om die groeiende gevaar van die watermafia te beveg. Die kommissie vra die klassifisering van waterverwante misdade as nasionale voorkeur-misdade, strenger polisie-optrede, vervolgings, en beskerming van noodsaaklike infrastruktuur. Hy waarsku dat sabotasie nasionale watersekerheid bedreig en noodsaaklike dineslewering ondermyn.
# Motorsport: Ses jong motorfietsryers sal Suid-Afrika volgende naweek verteenwoordig op die Junior Veldren-wêreldkampioenskap en -beker in Romagné, Frankryk. Die span bestaan uit Kabelo Ledwaba, Evan Frost, Brody Bircher, Cassie van Zyl, Trey Cox en Tristan Durow. Vanjaar se geleentheid spog met deelnemers uit ‘n rekord 38 lande. Motorsport Suid-Afrika sê hierdie jong motorfietsryers onder leiding van spanbestuurder Brett Bircher kan uitsien na goeie internasionale mededinging waar al die deelnemers die gesogte wêreldtitel wil wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-277-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….