Nuus 15:00
BULLETIN 24 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verloor binne drie maande 74-duisend werksgeleenthede
# Die DA sê minister Steenhuisen het ‘n verhoging in die prys van brood verhoed
# En rugby: Rassie Erasmus kies vier nuwelinge in die Bokgroep vir die wedstryd teen die Barbarians
# Statistieke Suid-Afrika het tussen Januarie en Maart ‘n daling van 74-duisend werksgeleenthede in die formele sektor aangeteken, wat die algehele indiensnemingsyfer op net meer as tien-miljoen te staan bring. Die grootste verliese was in handel en gemeenskapsdienste, met vervaardiging en die boubedryf wat ‘n klein wins getoon het. Matlapane Masupye van Statistieke SA sê voltydse werksgeleenthede het met 55-duisend gedaal, deeltydse poste met 19-duisend en die algehele verdienste het met meer as 47-miljard-rand gedaal:
# Die DA sê hy is trots op die oorwinning van die minister van Landbou, John Steenhuisen, wat die styging van die broodprys sal verhoed. Die party sê die minister het ‘n vorige reëling geïdentifiseer en beëindig waar ‘n verskaffer gemagtig word om gehalte-inspeksies van brood en graan by kleinhandelaars dwarsdeur die land te kan uitvoer. Willie Aucamp van die DA sê die verskaffer sou ‘n heffing instel by winkels, wat die prys van brood sou verhoog:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling sê die nuwe reëls wat die Nasionale Tesourie op die Maatskaplike Sekerheidsagentskap, SASSA, ingestel het, veroorsaak wydverspreide vertragings, verwarring en angs onder begunstigdes. Die voorsitter, Bridget Masango, sê die stryd teen bedrog is belangrik, maar die huidige stelsel is te streng en benadeel bejaardes, gestremdes en landelike gemeenskappe waar hulp nie maklik bekombaar is nie:
# Die president van Oekraïene, Volodimir Zelensky, en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, beplan om môre tydens die NAVO-beraad in Den Haag, Nederland, te vergader. ‘n Senior bron in Oekraïene se Presidensie het aan AFP gesê die bespreking sal fokus op die land se aankoop van ‘n verdedigingspakket, wat ‘n groot aantal lugverdedigingstelsels insluit. Verdere sanksies teen Rusland sal ook bespreek word. Zelensky was ‘n sentrale figuur tydens onlangse beraadsittings, maar is weens sy wankelrige verhouding met Trump nie genooi na NAVO-lede se hoofbespreking nie.
# Rugby: Hoofafrigter Rassie Erasmus het vier nuwelinge ingesluit in die Springbokspan vir Saterdag se wedstryd teen die Barbarians in Kaapstad. Die stut Asenathi Ntlabakanye en die flank Vincent Tshituka is in die opdrafspan en die haker Marnus van der Merwe en die stut Neethling Fouché op die bank. Sacha Feinberg-Mngomezulu is nommer tien en Manie Libbok op die bank. Lood de Jager is die eerste keer terug sedert voor 2023 se Wêreldbekertoernooi en is Jean Kleyn se slotmaat. Kaptein Siya Kolisi sal in sy 93ste toets speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-114-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….