Nuus 15:00
BULLETIN 20 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa waarsku burgers worstel steeds met ongelykheid en swak dienslewering
# Die DA sê die Gesondheidsdepartement erken sy vakaturekoerse is buite beheer
# En ‘n kunswerk van Lionel Messi word opgeveil
# President Cyril Ramaphosa sê die Grondwet se beloftes is nie ten volle verwesenlik nie aangesien baie Suid-Afrikaners steeds worstel met armoede, ongelykheid en swak dienslewering. Hy het tydens die Konstitusionele Hof se 30ste herdenking in Braamfontein, Johannesburg, gesê dis onaanvaarbaar dat mense hul steeds na die hof moet wend om hul basiese regte te eis. Ramaphosa vra die regering om meer te doen om sy grondwetlike verpligtinge na te kom om ‘n beter lewe vir alle burgers te verseker:
# Die DA sê die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het onthul vanaf April vanjaar is die vakaturekoerse vir dokters, verpleegkundiges en radiograwe onderskeidelik 9,4-, 14,2-en 15,7-persent. Die party sê die departement het gister in ‘n vergadering met die Parlement se staande komitee oor Begrotings erken die vakaturekoerse is onhanteerbaar. Die DA-lid, Michele Clarke, sê in Maart het die minister 27-duisend-523 vakatures in al nege provinsies bevestig, wat bestaan het uit twee-duisend-147 dokters en 16-duisend-870 verpleegkundiges:
# Nege van die Wes-Kaap se 12 vissershawens het opgegradeerde, hoogs sigbare uithangborde ontvang as deel van ‘n opknappingspoging gelei deur die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George. Die projek is deel van die “Visvang vir Vryheid”-toer wat waardigheid wil herstel en plaaslike ekonomieë bevorder deur hawe-identiteit en funksionering te verbeter. Hawens soos Kalkbaai, Houtbaai en Saldanhabaai spog nou met nuwe uithangborde en die ander hawens soos Hermanus en Gansbaai kry binnekort hulle beurt.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth sê hy is topfiks en gretig om te speel. Die 33-jarige speler het drie maande van die Verenigde Rugbykampioenskap misgeloop weens harsingskudding wat hy in Desember opgedoen het, en ʼn dyspier wat hy tydens ʼn Springbok-belyningskamp in Maart verrek het. ʼn Besering het hom ook op die kantlyn gehou in die Haaie se VRK-halfeindstryd teen die Bulle. Etzebeth sê ondanks die beserings sien hy daarna uit om weer die Boktrui aan te trek:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-877-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-352-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-65-sent per vat.
# En laastens: Een van die wêreld se beste sokkerspelers, Lionel Messi, het saam met die Turkse kunstenaar Refik Anadol gewerk om ‘n kunsmatige intelligensie-gedrewe kunswerk te skep. Die unieke digitale kunswerk getiteld “A Goal in Life” is ‘n uitbeelding van die Argentyn se betekenisvolste doele in sy loopbaan van 20-jaar, insluitend die ikoniese kopskoot in 2009 se Kampioeneliga-eindstryd. Die kunswerk word deur Christie’s in New York opgeveil, en aanlyn bieëry sluit die naweek. Opbrengste uit die verkoop sal verskeie organisasies sonder winsbejag bevoordeel, insluitend die Inter Miami CF-stigting se wêreldwye vennootskap met UNICEF.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….