Nuus 15:00
BULLETIN 19 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie gaan verkrygingswette versterk om onwettige politieke befondsing te keer
# Die Oos-Kaapse regering vereer die 92 slagoffers van die dodelike vloede
# En China vra lande in die Midde-Ooste, veral Israel, om gevegte te staak
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die Nasionale Tesourie werk daaraan om verkrygingswette te versterk om onwettige poltieke befondsing te verhoed. Hy het die hoofrede gelewer op die Verkiesingskommissie se simposium oor politieke befondsing in Durban. Godongwana sê wysigings sal gedoen word aan die Wet op die Befondsing van Politieke Partye en ander finansieringswette om skuiwergate toe te maak en verantwoordbaarheid te verbeter:
TERUGAANKONDIGING: Hierdie verslag is deur die Nasionale Persklub beskikbaar gestel.
# Die Oos-Kaapse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Xolani Williams, het die onlangse vloede as katastrofies en ondenkbaar beskryf. Twee-en-neëntig sterftes is tot dusver bevestig, terwyl duisende mense dakloos gelaat is. Daar word verwag dat getalle sal styg terwyl soek- en reddingspogings voortduur. Williams het op ‘n gedenkdiens in Mthatha gesê treurende gesinne wag steeds op vermiste geliefdes. Hy vra alle Suid-Afrikaners om die nasionale dag van rou te eerbiedig:
# China pleit dat lande in die Midde-Ooste, veral Israel, gevegte staak ná hernude oor-en-weer-aanvalle tussen die land en Iran. China het op ‘n vraag oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se waarskuwing dat hy Amerikaanse militêre optrede in die konflik oorweeg, gesê hy is nie ten gunste van geweld nie. Guo Jiakun van die Chinese ministerie van Buitelandse Sake sê Beijing is gekant teen enige optrede wat ander lande se soewereiniteit, veiligheid en integriteit skend, en ook teen die gebruik of dreigemente van geweld in internasionale betrekkinge.
# Netbal: Die wêreldbeheerliggaam het planne aangekondig vir ‘n Wêreldbekertoernooi elke twee jaar in plaas van die huidige vier jaar weens onsekerheid oor die toekoms van die Statebondspele. Die Spele se organiseerders sukkel om gasheerstede te kry weens die toenemende koste. Die volgende Wêreldbekertoernooi word beplan vir oor twee jaar in Australië. Wêreldnetbal sê hulle wil die sport oor die langtermyn laat groei. Planne is ook aangekondig vir ‘n Wêreldbekertoernooi vir mans omdat die sport al gewilder word onder mans.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-885-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-373-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-1-sent per vat.
# En laastens: ‘n Trots Suid-Afrikaanse dokumentêr, M.A.D Stories, het die prys vir beste dokumentêr gewen op die Cannes Indie-kortprentfees. M.A.D. staan vir Music, Art, and Dreams. Die regisseur is Mark Anthony en dis vervaardig deur Denis Leach met musiek deur Christopher Beukman. Die prent handel oor twee skeppende Kapenaars se toer deur Suid-Afrika se ondergrondse musiektoneel. Die dokumentêr word geloof vir sy rou en eerlike ontginning van vriendskap, identiteit, roem en die prys van ‘n kreatiewe lewe. Dis nou benoem vir die Tokio Indie-kortprentfees en Venesiese Kortprentfees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….