Nuus 15:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK is gereed vir die kiesersregistrasienaweek
# ‘n Ekonoom voer aan Ramokgopa se aanstelling as waarnemende minister van Finansies kan beleggersvertroue negatief beïnvloed
# En, krieket: Flintoff is die Northern Superchargers se nuwe hoofafrigter in The Hundred
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het aangekondig alles is slaggereed vir die komende kiesersregistrasienaweek. Die uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, het die jongste inligting verstrek oor die OVK se voorbereidings en onthul meer as ‘n miljoen mense het sedert die bekendstelling van die aanlyn portaal geregistreer. Verder is 69-duisend-780 personeellede geregistreer en opgelei vir die veldtog. Mamabolo het bevestig die registrasiestasies sal op albei dae vanaf agtuur soggens tot vyfuur die middae oop wees, en tydelike stem-sentrums is ook in verskeie gemeenskappe opgerig:
Speel klankgreep: ENG-MamaboloOnReadiness
# Nedbank se hoofekonoom, Nicky Weimar, het kommer uitgespreek dat die aanstelling van die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, as waarnemende minister van Finansies onbestendigheid in die land mag veroorsaak en beleggersvertroue kan beïnvloed. Weimar het aan Newzroom Afrika gesê die ontwrigting in leierskap kan as negatief beskou word. Ramokgopa sal in die waarnemende hoedanigheid dien wanneer die minister van Finansies, Enoch Godongwana, tot volgende Woensdag verlof neem. Volgens die Tesourie sal Godongwana na verwagting volgende week die G-20 plus Afrika-vergadering in Berlyn bywoon:
Speel klankgreep: ENG-WeimarOnRamokgopa
# President Cyril Ramaphosa het die bedanking van die direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap, Thembisile Majola, aanvaar. Die bedanking, wat vanaf 30 November geld, is na bewering met wedersydse instemming. Majola, ’n voormalige adjunkminister van Energie, het op 1 Maart verlede jaar die rol van direkteur-generaal van die agentskap aanvaar. Ramaphosa het sy waardering uitgespreek vir Majola se bydrae tot die hervorming en herbou van die Staatsveiligheidsagentskap.
# Krieket: Die voormalige veelsydige speler en kaptein van Engeland, Andrew Flintoff, is aangewys as die hoofarigter van Northern Superchargers in The Hundred-kompetisie. Dit is die 45-jarige se eerste skof in so ʼn posisie nadat hy meer as 200 wedstryde vir sy land gespeel het in al drie formate. Hy het in 2009 uitgetree en was daarna ʼn kommentator, handelsmerk-ambassadeur en radio- en televisiekommentator. Flintoff, wat die bynaam Freddie het, het onlangs as konsultant-afrigter met die Engelse span gewerk. Superchargers se voorsitter, Kirsty Bashforth, beskryf hom as iemand wat inspireer en sal hulle help om ʼn unieke kultuur te ontwikkel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-115-dollar-70-sent. Die prys van goud is een-duisend-973-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-99-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Fransman met ‘n gevorderde stadium van Parkinson se siekte sê dit is wonderlik om weer te loop nadat hy ‘n nuwe spinale inplanting ontvang het. Die 63-jarige, net bekend as Marc, is 20 jaar gelede met die toestand gediagnoseer en hy kon later nie meer sonder hulp loop nie. GoodNewsNetwork berig hy was die ontvanger van eksperimentele inplantingstegnologie in Switserland wat ook gebruik is om ‘n mate van beweeglikheid te herstel by ʼn ander man wat verlam gelaat is na ‘n rugmurgbesering. Marc sê hy kan nou kilometers op ‘n slag stap en sy hele lewe het ten goede verander.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….