Nuus 15:00
BULLETIN 19 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK se voorsitter waarsku teen geheime geld in die politiek
# GOOD sê hy het by die regering van nasionale eenheid aangesluit om te veg vir geregtigheid
# En krieket: Conrad loof Ashwell Prince na die Proteas se Toetskampioenskaps-oorwinning
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê Suid-Afrika moet dringend sy politieke befondsingswette hervorm om te verhoed dat geheime geld en onregverdige voordeel die demokrasie ondermyn. Moepya het op die kommissie se eerste politieke befondsingsimposium in Durban gewaarsku die huidige reëls kan steeds groter partye bevoordeel. Hy bepleit dat die Parlement deursigtigheid versterk, openbare befondsing verhoog, billike toegang vir kleiner partye en onafhanklike kandidate verseker, asook verbeterde afdwinging om vry en oop verkiesings te beskerm:
TERUGAANKONDIGING: Hierdie berig is deur die Nasionale Persklub verskaf.
# Die GOOD-party sê hy het nie by die regering van nasionale eenheid aangesluit om posisies te kry nie, maar om te pleit vir maatskaplike, ekonomiese, ruimtelike en omgewingsgeregtigheid. Hy sê na ‘n jaar kyk hulle terug op die regering met trots sowel as bekommernis. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hulle is trots dat hulle die ineenstorting van die middelpunt kon voorkom. Hy sê hulle is besorg oor die sleutelelemente van die regering se stigtingsooreenkoms wat nog nie ‘n werklikheid geword het nie:
# Banke het in 2024, die warmste jaar wat ooit aangeteken is, sowat 15,9-duisend-miljard-rand se fossielbrandstowwe gefinansier. Dit is ‘n skerp styging van die vorige jaar. Volgens die Banking on Climate Chaos-verslag wat die wêreld se top 65 banke dek, het fossielbrandstof-finansiering sedert 2016 se Paryse Ooreenkoms 126-duisend-miljard-rand gehaal. JP Morgan Chase is die wêreld se grootste fossielbrandstof-finansierder. Kritici sê banke het afstand gedoen van klimaatbeloftes, met sommige wat aan netto-zero-ooreenkomste onttrek. Aktiviste waarsku dat bindende regulasies die enigste manier is om die neiging te stop.
# Krieket: Die Proteas se hoofafrigter, Shukri Conrad, het Suid-Afrikaners bedank vir hulle ondersteuning na die geskiedkundige oorwinning oor Australië in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap. Hy was emosioneel toe die span vanoggend op die OR Tambo-lughawe in Gauteng geland het, en onthou dat sy oorlede pa daarvan gedroom het om Suid-Afrika teen Australië te sien wen. Conrad het ook die kolfafrigter Ashwell Prince geprys vir sy innerlike krag en toewyding na die onlangse dood van sy vrou:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-399-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-383-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die musiek-ikoon en filantroop Dolly Parton, die akteur en vervaardiger Tom Cruise, die choreograaf en aktrise Debbie Allen, en die ontwerper Wynn Thomas gaan in November ere-Oscars ontvang op die Goewerneurs-toekennings. Parton gaan vereer word met die Jean Hersholt Humanitêre Toekenning terwyl Cruise, Allen en Thomas die Eretoekenning sal ontvang. Die akademie se president, Janet Yang, sê hierdie vier legendes se buitengewone loopbane en toewyding aan die rolprent-gemeenskap laat ‘n blywende indruk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….